Agrimark Paarl word drie en hier gaan groot makietie gehou word! Na verwagting is Jan en sy span hard aan’t voorberei en vere-regskud vir dié okkasie.

Ek vind takbestuurder Jan van Niekerk op die vloer by ʼn verkoopsagent waar hulle praat oor hoe om rakke te herrangskik.
“Is jy familie van Charlie Weir?” vra ek, want nés die bokser, het Jan ʼn kol spierwit hare bo sy bruin kuif.
Hy spot dat die winkel hom in die vier jaar sedert hy oorgeneem het, kol-kol grys maak. Jan het grootgeword op ʼn plaas in die Wellingtondistrik, maar as die jongste van vier broers moes hy ander weivelde gaan soek. “Gelukkig is ek steeds by landbou betrokke,” sê hy.
Jan het na skool Kleinhandel en Sakebestuur by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie studeer. Kaap Agri (Agrimark is ‘n handelsafdeling van die Kaap Agri-groep) bied vir hom die geleentheid om sy passies vir beide kleinhandel en landbou uit te leef. “Dis my twee beste wêrelde in een,” sê Jan.

Hy het in 2000 as bestuurskwekeling by WPK (Kaap Agri se voorganger) begin. “Daarna het ek by oom Jannie Olivier in Wolseley die till gaan slaan,” glimlag hy. Wolseley was ʼn opleidingstak en oom Jannie was ʼn goeie leermeester. “Hy’t jou alles geleer van die binneboeke,” meen Jan, wat ook in Wolseley kennis opgedoen het van landboubestuur en verpakking.
Hy is in 2001 kortliks na De Doorns toe, toe in Hermon vir drie jaar, voor hy as pasgetroude na Op Die Berg in die Koue Bokkeveld verhuis het om as takbestuurder oor te neem. Jan en sy vrou, Marzaan, was vir amper tien jaar in die Koue Bokkeveld. Hul kinders, Kobus (11) en Lisa (7), is daar gebore en hulle wou ter wille van die kinders nie té gou weer
skuif nie.
Met Jan se oorname in Augustus 2015 het die winkel ʼn totale omwenteling ondergaan. Na ’n uitgebreide opknapping is die Agrimark Paarl in Oktober 2016 heropen. Vloerspasie is verdubbel tot 2 000 vierkante meter en die bestuurspan moes met innoverende konsepte vorendag kom om die aanbieding dienooreenkomstig te vergroot.
In 2015 het die tak ongeveer 12 000 items aangebied, wat met die heropening gegroei het tot 23 000 items. Die eerste fokusarea was om produkreekse uit te brei en die regte kombinasie voorraad saam te stel. Vir ʼn sakeman met ʼn passie vir kleinhandel was hierdie proses ʼn uiters stimulerende uitdaging. Jan is ondersteun deur Kaap Agri se produksiebestuurspan onder leiding van Johann Stapelberg. “Ons het van ʼn kant af na elke afdeling gekyk en gevra wat ons klante nóg nodig het,” sê Jan. Agrimark Paarl staan nie verniet bekend as die “superwinkel” in die Kaap Agri stal nie. Die tak se nuwe verkoop- en bemarkingstrategieë is toonaangewend en hulle dien as maatstaf vir die ontwikkeling van ander takke.
Dit was die eerste tak wat in sones verdeel is – onder meer verf, boumateriaal, diere en tuin – wat met groot reklameborde in verskillende kleure onderskei word. Dit lyk nie net mooi nie, maar help ook die klant om ʼn produkkategorie of item vinnig op te spoor.
“Dit was ʼn proses van probeer en leer om te sien wat werk goed wáár,” meen Jan. Gesoute handelaars beweer dat kopers by ʼn winkel instap en onmiddellik na regs kyk en dan daarheen stap, met die gevolg dat voorraad links van die ingang minder aandag geniet. “Ons sit doelbewus iets wat die oog trek links van die ingang.” Met ons besoek huisves hierdie area ʼn verskeidenheid hondebeddens en speelgoed, want elke woef kort mos ʼn nuwe bed na die winter se modderkolle. Jan is ook baie gesteld op goeie vloei op die vloer. “Die verf is in ʼn hoek reg langs die boumateriaal. Loodgietery, elektries en hardeware volg so een na die ander. Die troeteldierafdeling is in die middel agter om voete deur die winkel te kry, en dan het ons die Jonssons-sone agter regs met die borduur-afdeling langsaan. En die kinderspeelarea reg langs Caffé Fego is natuurlik ʼn wenkombinasie,” sê Jan.
Tans is die bouafdeling hul grootste inkomste-aar, met alles van hardeware, verf en gereedskap tot materiale wat uitstekend verkoop. Jan skryf dit toe aan die verskeidenheid en grootte van hul reekse, sowel as die gehalte van hul diens. “Goeie menseverhoudings is vir ons belangrik. Groot ontwikkelaars gebruik ons, en dis te danke aan ons diens en die goeie werk van ons boubemarker, Ridus Erasmus,” sê Jan. Dit tel ongetwyfeld in die winkel se guns dat Paarl nie net die tweede grootste stad in die Wes-Kaap is nie, maar ook die vinnigste groei in dié provinsie toon. “Ja,” beaam Jan, “Paarl het steeds ʼn plaasgevoel, maar dis twee jaar gelede as ʼn stad geklassifiseer.”
Die tak het ʼn bestuurspan van agt en ʼn totale werksmag van 60 wat in twee skofte die wiele daagliks van 07:30 tot 18:00 aan die rol hou. Die droogte het, soos op alle rolspelers in die landbou, ook op hierdie tak sy merk gelaat. Jan meen dat dit sedert Juliemaand lyk of sy klante se gemoed gelig het, en hul koopkrag daarmee saam. Oor naweke gons die tak met doen-dit-self dorpenaars. “Die DIY-klomp is almal in die huwelik,” skerts assistent-bestuurder Emile Nieuwoudt. “Want al wat jy hoor is hu-wel-ik dít en hu-wel-ik dát hê.”
Die tuinsone is veral oor naweke ʼn trekpleister en die indrukwekkende speelparkie is altyd populêr. Dit is ʼn wen-wen-wen situasie, met iets vir pa’s, ma’s én kinders. Die kinderarea en restaurant is uiters gewild tydens hul Super Saturday Specials, wanneer verskaffers ook ʼn bydrae lewer. “Meadows voere het al byvoorbeeld lammers vir die kinders gebring om mee te speel, en met ʼn Montego hondekospromosie het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) hul hondjies gebring – wat lekker was vir die kinders maar ook die DBV gehelp het,” vertel Jan.
Daar heers groot opgewondenheid oor die winkel se derde verjaarsdag wat op 25 en 26 Oktober met ʼn makietie en ongelooflike promosies gevier gaan word. Agrimark Paarl se verjaarsdagviering sluit mooi aan by hul Wêreldbekerpakket, met verskaffers wat aan boord kom om fantastiese promosies moontlik te maak. Groot promosies in onder meer verf, buitelewe, tuinbou en kragtoebehore sal vanaf 25 Oktober vir twee weke beskikbaar wees. Benewens winskopies sal daar ook kosstalletjies, springkastele en trapkarre wees.
In die aanloop tot hul verjaardag weet Jan presies wat om te doen. “Ons maak rakke vol dat die biesies bewe vir ons verjaarsdag,” sê hy. Sekondes nadat ons totsiens sê, is Jan weer terug tussen die rakke en sy kliënte.

Gepubliseer in MARKtoe! tydskrif

Visit Paarl Agrimark