By die eerste en enigste stopstraat in Porterville se hoofstraat draai ons regs by Kaap Agri Akademie en volg ons die bordjies na Agrimark, Agrimark Grain en Kaap Agri Meganisasie. Kaap Agri trap inderdaad ‘n diep voetspoor in hierdie klein dorpie met die groot hart, waar mense nog tyd het vir hul medemens. Maak nie saak of die kraaie gaap, en of die Olifantsrivierberge sy winterslapie onder ‘n sneeudeken vang nie.

AGRIMARK

“Sjoe, maar dis warm hier,” sê ek met die intrapslag. “Ag nee wat, gister was warmer,” meen takbestuurder Altus Coetzee. “As dit nie vandag so heerlik warm is nie, kry ons nie die koue, nat winterdae wat ons so nodig het nie.” Altus se onbeskaamde optimisme is soos ‘n vars briesie op hierdie snikhete dag. Die lugverkoeler in sy kantoor is ‘n verdere bonus. 

Altus het in 2010 by Agrimark Porterville aangesluit ná veertien jaar in Montagu. Volgens hom het Porterville die ongelooflikste mense. “Hier het mense tyd vir mekaar. En ek bedoel dit op twee maniere. Ons het horlosietyd – letterlik, tyd om te gesels – en ook tyd op die vlak van ‘ek het tyd vir hom of haar’, bedoelende jy hou van iemand. Hier hóú mense nog van mense,” sê hy.   

Altus beskou homself as baie bevoorreg omdat hy nie noodwendig elke week in ‘n voertuig hoef te klim nie. “Daar gaan soms ‘n week verby dat ek nie in ‘n voertuig klim nie. Ek stap werk toe, stap kerk toe en stap slaghuis toe. Daar is min mense wat so bevoorreg is,” meen hy. Vir ‘n dorpie met ongeveer 8 000 inwoners is Porterville se tak verbasend groot – en ondanks die hitte buite, ook aangenaam koel. ‘n Span van 31 verseker dat alles in die winkel en die stoor glad verloop. Die vorige Agrimark-gebou het in Mei 2005 afgebrand, waarna die nuwe winkel in Desember 2006 geopen is. Die huidige winkel het ‘n vloerspasie van 950m² met verdere dekspasie van 143m² en ‘n stoor van 2 400m². Altus glimlag net en sê “daar’s genoeg”. Die dakhoogte laat ruim spasie vir die plasing van reklameborde om verskillende afdelings en produkreekse te adverteer, en die gange tussen rakke is breed.

Die streek is tradisioneel en steeds oorwegend koringwêreld, maar daar is ook wisselbougewasse soos canola. Daar is ook heelwat skaap, veral Vleismerino’s, met ‘n paar vleisbeeste en melkerye in die omgewing. Boumateriaal en hardeware is ‘n belangrike inkomste-aar vir die tak. “Onthou, ons is ‘n klein gemeenskap,” sê Altus, “en ons probeer allerlei benodighede voorsien.” Agrimark Porterville is die enigste verskaffer van “witgoed” – huishoudelike toestelle – in die dorp. Die tak verkoop ook die skoolklere en bykomstighede vir Hoërskool Porterville, wat leerders van graad een tot matriek onderrig. “Ons was gister baie besig,” meen Altus. “Met almal wat kom skoolklere, rugsakke en kosblikke koop het vir die eerste dag van skool.” 

Benewens skoolklere doen die Jonsson-reeks ook baie goed. “In 2010 het ons ongeveer 5 500 produklyne gedra en nou staan ons op ongeveer 10 500. Ek dink dis ‘n groot WOW!” sê Altus. Hy vertel hoe hulle gange toegemaak het om meer rakspasie te skep. Die tak verkoop alles, van televisiestelle tot swembad-toerusting. Hulle bedryf ook die dorp se enigste fietswinkel wat parte en bykomstighede voorsien. Terwyl ek deur die aansienlike buitelewe-afdeling stap, bring Altus ‘n groot bal gemaak van dun stroke materiaal. “Weet jy wat dit is?” vra hy. Dit lyk soos die materiaal wat soms gebruik word om badkamermatjies te knoop. “Dis afvalmateriaal wat in die boorde gebruik word om vrugtebome op te bind, maar vroue in die omgewing gebruik dit om daarmee te brei.” Toe ons vra of ons ‘n stapel materiaal-balle mag fotografeer, noem ‘n verkoopklerk dat ‘n vrou sopas al hul voorraad gekoop het. 

Volgens Altus het die streek in 2019 tot en met Augustus, baie goeie reënval gehad. “Toe hou die reën heeltemal op en van die oeste het seergekry. Sommige boere het swak oeste afgehaal, maar ons is dankbaar vir die wat wel billike oeste gehad het. Maar hierdie tyd van die jaar lyk dit altyd droër as wat dit eintlik is,” sê hy van hierdie hoek van die Swartland wat nét in die winter reën kry. “Baie van ons produsente – veral die saaiboere – het jaar-fasiliteite by ons waardeur groot dele van hul insetkoste gefinansier word.” Wat die tafeldruifbedryf betref, meen Altus dat daar nie noodwendig nuwe grond gebreek word nie, maar dat boere baie fokus op die vernuwing van bestaande grond, deur byvoorbeeld blokke te vervang of onder nette te plaas. 

Agrimark Porterville se vulstasie is geleë tussen die winkel se ruim parkeerarea en die ewe groot stoor. “Het jy al ooit soveel parkering gesien?” vra Altus terwyl hy op pad na die vulstasie en die landboustoor na al die spasie beduie. Die vulstasie word beman deur ‘n petroljoggie en twee verkoopsklerke wat die stoor sowel as die vulstasie bedien. 

Altus staan eers stil in die opening van die ruim landboustoor. “Is dit nie ongelooflik nie?” sê hy met verwysing na die massiewe spasie. Die linker helfte van die stoor is van voor tot agter gepak met palette veevoer wat hoofsaaklik van Tongaat en Malelane afkomstig is. Die tak verkoop veral lekke en konsentrate en, tot ‘n mindere mate, gebalanseerde voere. “Jy moet onthou, elke liewe sak word met die hand afgelaai en op palette gepak. En wéér met die hand opgelaai om na die plaas vervoer te word,” sê Altus terwyl hy wys na die 40 kg en 50 kg sakke. In die ander helfte van die stoor word hardeware en boumateriaal gestoor. Altus vertel dat daar nie juis nuwe huise op Porterville gebou word nie, maar baie van die ouer huise word herstel of herbou.

WESGRAAN

Die Agrimark Grain-aanleg grens aan die Agrimark-stoor. Charles Williams het in Oktober 2019 oorgeneem as silobestuurder by Agrimark Grain Porterville. “Charles is nog nat-nuut hier,” skerts Awie Kriel, Agrimark Grain Streekbestuurder van Operasionele Kommoditeite, in Charles se kantoor. Charles is dalk ‘n nuweling by Agrimark Grain, maar silo’s en graan is in sy bloed. Hy’t direk ná skool as leerling-graangradeerder begin en homself as ‘n gradeerder van koring, gars, hawer, canola en mielies bekwaam. Hy het ook kursusse in graanberoking en silobedryf voltooi. 

Gegewe die hitte van die dag, hang die koringstof stil in die swaar lug. Ek nies met die instap, alhoewel ek myself glad nie beskou as iemand met koring-intoleransie nie. Volgens Charles eet hy net tuisgebakte brood en met 21 buise en ‘n totale stoorkapasiteit van 29 000 ton kommersiële “broodkoring”, is hy in die regte bedryf om brood tuis te bak. Die tak se saadopberging-aanleg het ‘n kapasiteit van 4 000 ton. Agrimark Grain Porterville is uitsluitlik ‘n koring- en saaddepot. Charles behartig ook die inspeksie van saadaanplantings tydens die blomstadium en vooroes. Tydens die inspeksie kyk hulle na afwykings en egt-heid van aanplanting en daar word ook ‘n oesskatting gedoen. Die saadoes word verwerk, behandel en gesertifiseer, waarna saad weer aan die kommersiële produsente beskikbaar gestel word vir die volgende aanplanting.

MEGANISASIE

Cobus Meyer het die privaatsektor verlaat om in 2014 as die bestuurder van Meganisasie aan te sluit. Hy het grootgeword op ‘n plaas buite Ventersdorp en beide Cobus en sy vrou, Elsie, is bitter gelukkig in die Swartland. Soos Altus, geniet Cobus en sy vrou die mense in die omgewing en die wyse waarop hulle tyd maak vir mekaar. “Dalk nie so erg tydens oestyd nie,” sê hy nadenkend, maar dit is heeltemal verstaanbaar. Al het die blink, nuwe trekkers en stropers lugverkoeling, is dit ‘n genade dat koring nie in die warmste maande van die jaar geoes word nie. 

Met drie werktuigkundiges, vyf vakman-assistente, een motor-elektrisiën, twee privaat vakmanne wat op kontrakbasis werk, ‘n kontrakteur wat sweis, ‘n draaibank-afdeling wat benewens pas-en-draaiwerk ook verkoelers herstel, twee onderdeel-klerke en twee administrasieklerke, is Meganisasie Porterville een van die grootste Meganisasie-takke in Kaap Agri. 

DIEP WORTELS

Kaap Agri se voetspoor op Porterville sluit die Kaap Agri Akademie in, waar opkomende boere geakkrediteerde opleiding ontvang. Daar is ook administratiewe kantore waar personeel rugsteunfunksies verrig. Met ‘n geïntegreerde aanslag tot dienslewering, ‘n “mens-mense” kultuur en diep wortels in die gemeenskap, bied die onderskeie spanne ‘n toegewyde ondersteuningsnetwerk en omvattende kleinhandel aanbieding vir die inwoners van Porterville en die omliggende landbougemeenskap.

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.