Per definisie is ‘n gehuggie kleiner as ‘n dorpie en streng gesproke mag dit nie ‘n kerk hê nie, maar Simondium, op die R45 tussen Franschhoek en Paarl, spog met drie kerke. Uitgestrek tussen Simonsberg en die Bergrivier, en met die Groot Drakenstein-berge as skilderagtige agtergrond, is hierdie nedersetting die naeltjie van ‘n diverse en dinamiese gemeenskap. As ‘n noodsaaklike diensverskaffer gedurende die tyd van inperking, spits die span van Simondium Agrimark hulself toe op die veilige en higiëniese dienslewering van essensiële goedere.

“Ek dink nie mense weet aldag wat om van Simondium te maak nie,” meen Robert Hollenbach, bestuurder van Simondium Agrimark. Simondium is iewers tussen ‘n dorpie en ‘n plaasgemeenskap met ‘n bondel essensiële dienste waarvan Simondium Agrimark, met ‘n Expressmark en vulstasie langsaan, ‘n beduidende deel uitmaak.

Robert, wat voorheen bestuurder by Riebeek-Wes Agrimark was, het in November 2019 by Simondium Agrimark oorgeneem. Hy woon reeds geruime tyd in Wellington en pendel werk toe. “Die skoonheid van die area is ongelooflik. Wanneer ek werk toe ry, voel dit of ek die helfte van die tyd gebruik, al is die aantal kilometers presies dieselfde. Net omdat dit altyd so groen en mooi is,” sê hy van sy nuwe omgewing.

Simondium Agrimark se personeel is ‘n gesoute span met meer as ‘n eeu se klantedienservaring tussen hulle. Jackie Cyster, die senior handelsklerk administratief, is reeds 33 jaar by hierdie tak en Robert meen haar vriendelike hulpvaardigheid definieer die gees van die tak. Jackie tree binnekort af, maar gelukkig is die asssistentbestuurder, Hennie Carstens, ook reeds 30 jaar by die tak. “Toe Jackie in November 1987 hier begin het, het hulle net drie personeellede gehad. Toe Hennie in 1989 aansluit, was hy die vyfde personeellid. So, die tak het darem met twee mense gegroei oor die drie jaar,” skerts Robert.

Drie dekades later het Simondium Agrimark ‘n span van dertig wat die gemeenskap dien, in dieselfde gebou wat vroeër jare ‘n trekkerstoor was en wat tot 2017 ook die plaaslike poskantoor gehuisves het. Die tak is duidelik diep ingeburger in die gemeenskap. “Ek besef dat die mense wat hier is, se wortels diep in die area vasgegroei is. Daar word byvoorbeeld met groot trots gesê ‘ek kom van Simondium’ of ‘ek woon hier in Pniel’,” vertel Robert.

Elke Agrimark-tak is uniek, met ‘n produk-aanbod wat bepaal word deur plaaslike klante en produsente. Simondium bestaan uit ‘n hoë konsentrasie inwoners uit die hoogste inkomstegroepe, sowel as inwoners uit die laagste inkomstegroep. “En ons probeer vir almal sorg,” meen Robert. Die tak het meer kruideniersware as die deursnit Agrimark-tak. Gedurende die staat van inperking is dit juis vir Agrimark, ‘n noodsaaklike diensverskaffer, belangrik om die spektrum van essensiële goedere te dek. “Hier kort nog olyfolie,” sê hy, en wys na ‘n gaping op die rak tussen die sonneblomsaadolie en die blatjang.

“Ons het seker van die land se mees gesogte plase in hierdie area,” sê Robert. Benewens landbou, het Simondium ‘n groot verskeidenheid toerisme-aantreklikhede en is die area uiters gewild onder paartjies wat die knoop in ‘n skouspelagtige omgewing wil deurhaak.

“In terme van omset is die tak se grootste inkomstestroom uit landbouprodukte, wat grotendeels bestaan uit kunsmis, chemikalieë, veevoer en agri-infrastruktuur, veral die net-opleistelsels vir tafeldruiwe, pruime en bloubessies. Die tak fasiliteer ook baie finansiering deur middel van die streekhoofkantoor in die Paarl.

Alhoewel Simondium hoofsaaklik met pruime en wingerd geassosieer word, bied die area ‘n interessante versameling nisboere, sowel as agri- en ekotoerisme en leefstyl-ontwikkelingsgebiede. “Ons het van ‘n slakplaas tot ‘n krokodilplaas hier en vark-voerkrale, hoenderboerderye, perdetelers, eksotiese beesrasse en selfs ‘n paar waterbuffels vir melk- en kaasproduksie,” sê hy.

“Ons verkope van industriële plastiek is ook substansieel, wat natuurlik nette insluit, maar ook deklaag, kratte en vele verskillende tipes oplei-materiaal. Simondium is by uitstek ‘n groot besproeiingsgebied, met baie bergwater wat afvloei om damme te vul sowel as die Bergrivier wat daardeur loop.

“Ons is ook opgewonde oor ons TEGO Bulk Bins. Dit is ‘n hoë kwaliteit, duursame, voedselgraad-plastiek grootmaathouer wat vir vrugte- en groente-oeste ontwerp is,” sê Robert. Dié houers, met unieke ontwerpkenmerke, word deur TEGO Plastics, ‘n filiaal van Kaap Agri vervaardig en kan direk deur die tak bestel word.

Die tak is ook ‘n gevestigde verskaffer van boumateriaal wat verf, gereedskap en benodighede soos sement, teëls en hout insluit. Daar is reeds planne om nuwe produkreekse toe te voeg, soos onder meer Tjoko-verf. Dit word veral gebruik vir die skep van fokusmure deur byvoorbeeld ‘n stensil teen ‘n muur aan te bring. “In hierdie strook tussen Franschhoek en Paarl is daar reeds ongelooflik baie erwe uitgelê vir die toekomstige ontwikkeling van leefstyl-landgoedere,” sê Robert. Die tak het ‘n bakkie en ‘n 6-ton vragmotor waarmee landbou- en boumateriaal-bestellings afgelewer word. Hul afleweringsdiens het nog altyd die lewe vir boere en bouers makliker gemaak, en dit is veral nou gerieflik met die beperkte beweging en verhoogde kommer gedurende die staat van inperking.

Die tak se Jonsson-sone vaar ook briljant wat Robert toeskryf aan die fantastiese diens wat deur verkoopsklerk Monique Carolissen gelewer word. “Sy is ongelooflik en kry elke maand volpunte in Jonsson se eksterne graderingstelsel,” sê hy. Benewens oorpakke en klerasie vir werkers, doen die ontspanningsdrag ook goed en met al die restaurante in die area, neem die aanvraag na professionele kombuisuniforms toe. “Omtrent elke plaas in Simondium het ‘n restaurant en ons voorsien in baie van hul klerasie-behoeftes,” sê Robert.

Soos almal sien Robert uit na ‘n tyd wanneer groter interaksie toegelaat word. “Ek wil so graag meer van ons produsente ontmoet. Ek het in November begin en kort daarna het almal begin oes. En net voor hulle kon klaar oes, word die inperking toe aangekondig. So ek sien vreeslik uit daarna.”

Met historiese landgoedere tot baanbreker-produsente bedien Agrimark Simondium ‘n unieke en vernuwende gemeenskap wat met elke nuwe groeifase vir groter diversiteit sorg.

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.

Visit Simondium Agrimark