Aan die randjie van die Nama-Karoo lewer ’n klein tak met ’n groot hart meer as net flink diens. Takbestuurder Lynville Isaacks en sy span van ses se medemenslikheid is aansteeklik. Van behulpsaamheid op die vloer tot ’n grappie by die kasregister is Vanrhynsdorp Agrimark se luim so hartlik soos die streek se mense.

Sedert takbestuurder Lynville Isaacks by Vanrhynsdorp Agrimark aangesluit het, het hy al verskeie veranderinge beleef, waarvan die Covid-19-pandemie beslis die grootste uitdaging inhou. “Op tak-vlak was dit ’n geweldige aanpassing om skielik net essensiële goedere te mag verkoop en dit was ook baie frustrerend vir ons klante,” sê hy. “Dit laat jou beslis anders kyk na hoe jy dinge doen. Nou het hande-reinig al so deel van ons daaglikse bestaan geword, jy kan jou beswaarlik voor-stel dat dit eendag nie meer nodig gaan wees nie.”

Ongeag of jy ’n kombuis wil ombou of ’n badkamer wil aanbou, Vanrhynsdorp Agrimark voorsien aan alle boubenodighede. Binnehuise teëls is onlangs tot die tak se produkreeks toegevoeg en dit is reeds ’n goeie verkoper. Die verfafdeling, onder leiding van “verfman” Thys Hendriks wat die afdeling behartig, lewer ook ’n gerieflike en noodsaaklike diens vir dorpenaars en omliggende boere.

Lynville glo aan die aggressiewe bemarking van nuwe produkte en dienste. “Die boubedryf is beslis ’n fokusarea vir ons en ons sal voortgaan met die uitbreiding daarvan,” sê hy. Die tak doen ook aflewerings wat gewoonlik grotendeels bestaan uit boumateriaal wat in die dorp afgelewer moet word.

Dienslewering aan die landbousektor is vir hom ewe belangrik. Met nuwe aanplantings van tafel- en droogdruiwe neem die aanvraag vir draad en pale net toe. Vele plase in die omgewing is afhanklik van boorgatwater en die tak is ’n groot verskaffer van waterpompe. “Ons kan enigiets wat nodig is vir besproeiing voorsien,” sê Lynville. Noue samewerking met die omliggende Agrimark-takke in Vredendal, Lutzville en Klawer verseker vinnige toegang tot voorraad wat dan versprei word na waar dit benodig word. Die gebruik van nette om wingerd te beskerm is oral in die streek sigbaar en netmateriaal word direk by Vredendal Agrimark bestel.

Plase in die area boer hoofsaaklik met skaap en rosyntjiewingerd en Vanrhynsdorp Agrimark verkoop ook heelwat elektriese bedrading en toerusting om vee uit aangeplante gewasse te hou. Vanrhynsdorp Agrimark se netjiese stoor bevat groot sakke mielies, lusernkorrels en voermelasse. Daar is ’n verskeidenheid voer vir bees, skaap, hoenders en varke.

Of dit nou bakstene of 50 kg voersakke is, dit word met die hand gelaai deur die tak se stoormanne. ’n Paar lugverkoelingseenhede wat in ’n hoekie gestoor word, herinner ons dat hierdie area in die somer bloedig warm word – daar word gepraat van temperature in die hoë veertigs en selfs oor die vyftig grade!

Dis vroeg op ’n Dinsdagoggend en terwyl ons met Lynville gesels, lui sy foon gereeld en een klant ná die ander stop duskant die deur om hande skoon te spuit voor hulle inkom. Dié tak staan nie stil nie. Hardeware is een van hul ander ’n topverkopers. En in die klereafdeling verkoop Jonsson se oorpakke soos skuinskoek (anys-geur oliebolle wat glo hier lekkerder proe as in enige ander dorp in die land).

Daar is ’n yskas wat toegewy is aan skaap-entstowwe en die tak het ’n uitgebreide verskeidenheid van reinigingsmiddels sowel as maskers en beskermingstoerusting om die pandemie te help bestry.

Lynville voel dat die grootte van die tak eintlik in hul guns tel. “Ek glo dat ons vriendeliker met mense omgaan, juis omdat die tak kleiner is en ons meer aandag aan klante kan skenk. Ons soek altyd vir maniere om te verbeter en uit te brei, maar ons wil nooit ons menslikheid verloor nie,” sê hy. “Daar is vir my niks lekkerder as om ’n gelukkige klant te sien nie. Dit gaan vir my daaroor om ’n diens aan die gemeenskap te lewer en om mense tevrede te stel,” sê hy.

Die tak se ingang kyk uit op die vulstasie se ryvlak en die Expressmark daar langsaan. Expressmark se bestuurder, Conrad Kotze, is verlig dat die hoeveelheid vragmotors, verbygaande motoriste en plaaslike klante op die pad weer besig is om toe te neem. Expressmark se verskeidenheid van 5 kg en 10 kg sakke hondekos is opvallend groot. “Ons verkoop heelwat daarvan ná ure, wanneer Agrimark toe is,” verduidelik hy. En almal is dankbaar dat warm pasteie, toebroodjies, koffie en kleurvolle kolwyntjies nou weer beskikbaar is vir enigeen wat die langpad wil aandurf.

Met Namakwaland se veldblomme wat binnekort hul jaarlikse kleurskou hou, vat ek sommer weer die pad terug na Troe-Troe toe, daar waar die mense met die groot harte woon.

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.

Visit Vanrhynsdorp Agrimark