Deur Danie Keet | Foto’s Michel Dei-Cont

Joubertina, min of meer in die middel van die Langkloof, tussen talle boorde appels pere, pruime, perskes en lande vol bloubessies, is die hartklop van hierdie distrik. Geen wonder hierdie streek staan as die Vrugteroete bekend nie, want hier is sappige, geurige vrugte ‘n lus vir die oog.

JOUBERTINA AGRIMARK

En die Agrimark-tak is presies in pas met hierdie soete hartklop. Anton Terblanche, die takbestuurder, hou die afgelope vier maande al die leisels vas. As boorling van die Klein Karoo ken hy die warmte van die plattelandse gemeenskap. 

Opvallend as ‘n mens die winkel in Ferreirastraat binnestap, is die netheid en georganiseerde wyse waarop die winkel bedryf word. Die area langs die winkel, wat voorheen as stoorplek gedien het, is nou as deel van die winkel omskep sodat die tak ‘n groter verskeidenheid produkte kan aanhou. Alles is op sy plek, maklik bereikbaar en ten volle in die oog.

“Dis ‘n spanpoging,” sê Anton. “Ons is hier om diens te lewer en te sorg dat daar aan ons produsente en die gemeenskap se behoeftes voldoen word. Natuurlik het ons alles wat die produsente van die omgewing nodig kry: pype, besproeiingstoerusting, kunsmis en ander daaglikse benodigdhede. En as ons dit nie in voorraad het nie, sal ons alles in ons vermoë doen om dit vinnig in die hande te kry. Bekostigbaarheid is deel van die oplossing en ons probeer altyd om kompeterend met ons aanbiedinge te wees.”

Een van die 15 personeellede is dadelik by om hand by te sit as ʼ’n klant hulp nodig het. Anton verduidelik: “Dit is deel van ons sukses. Heelwat van ons personeel is al soos familie en is al baie jare by die winkel betrokke. Hulle ken die mense en weet waar alles in die winkel is, sodat hulle vinnige en doeltreffende diens kan lewer. Elton Goeda werk al tien jaar by ons en is in beheer van die verfafdeling, terwyl Brendon Plaatjies, wat in die algemeen oor die vloer in die winkel toesig hou, al met ‘n Agrimark Go for Gold-toekenning [die werknemer-erkenningsprogram] vereer is.” Die onderbestuurder en senior handelsklerk, Andre Frey, het in 2016 by Agrimark aangesluit. Hy is verantwoordelik vir die meeste aankope en om nuwe verskaffers te werf. Andre is ook verantwoordelik vir die boumateriaal en hy vertel trots dat dit enorme groei toon. Hulle bedien dorpies soos Twee Riviere, Ravinia, Krakeel, Louterwater, Misgund – selfs sover as Haarlem, ‘n eertydse Duitse sendingstasie sowat 50 km van die dorp af. 

Ontwikkeling in die plaaslike boubedryf het die afgelope paar maande sterk toegeneem en die tak het sy bouafdeling op aanvraag van klante aansienlik uitgebrei. Voorraad van produkte wat deur die boubedryf gebruik word soos sement, stene en boublokke, is aangepas en uitgebrei om te verseker dat daar altyd genoeg boumateriaal beskikbaar is. Die tak maak ook seker dat aflewering van hierdie materiaal so spoedig moontlik afgehandel word.

Die mense van Joubertina se omgewing kan nou ook die tak besoek as hulle motorbande nodig het. Hulle hou ‘n wye reeks bande aan.

“Ons het ‘n ooreenkoms met ‘n plaaslike diensverskaffer om die opsit en wielbalansering te doen. Ons pryse is uiters kompeterend en weer eens is dit die diens wat ons kop en skouers bo ander verskaffers laat uitstaan.”

Behalwe dat Agrimark vir die landboubedryf voorsiening maak, is die winkel ook toegerus met alledaagse items en produkte vir dorpenaars en ander besoekers. ‘n Hele reeks Defy-produkte is onlangs bygevoeg. Daar is ‘n groot reeks huishoudelike items, skoonmaak-middels, verf, swembad-, badkamer-, en motorbenodigdhede en selfs speelgoed, soos model implemente en weermagvoertuie. Alhoewel ‘n groot deel van Agrimark se klante uit die landboubedryf kom, bied hulle iets vir almal. Die winkel is regtig ‘n een-stop-winkel vir die breër gemeenskap.

PAKMARK

Jan Schoeman is aan stuur van sake by die Pakmark op Louterwater, ʼ’n afdeling van Agrimark Joubertina wat vir pakmateriaal sorg. Jan, wat op Krakeel bly, is al etlike jare in die Langkloof en het die Agrimark-tak op Joubertina in 2010 gevestig. Hy is ook betrokke by die takke op Kirkwood en Patensie.

“Ons bedien die grootste gedeelte van die Langkloof, tot sover as George, en voorsien pakmateriaal aan die vrugteboere, insluitend aarbei- en bloubessieboere. Ons diens ook die Kouga-gebied,” sê Jan.

Hulle bedien dorpies met bekoorlike name soos Knoll, Kamanassie, Kareedouw, Heights, Tweeriviere, Haarlem, Avontuur, Louterwater, Krakeel, Misgund en die Kouga-omgewing. Hy vertel met trots: “Ons is die grootste verskaffer van vrugte pakmateriaal in Afrika suid van die Sahara en die Pakmark op Louterwater is een van 20 landwyd.” Die materiaal word vir sowel die plaaslike as uitvoermark gebruik. 

Die produkte voorsien in die behoeftes van die plaaslike vrugteverpakkingsbedryf: kartonne, plakkers, hoekstukke vir kartonne, palette, grootmaatkratte – wat die nuwe Tego-kratte van plastiek insluit – punnets, sakkies en selfs houers vir hoenders en nog meer.

“Ons is die hele jaar besig met die verkoop en verspreiding van die materiaal. Omdat hier so ‘n verskeidenheid boerderye in ons streek is, is daar feitlik nooit ‘n stil tydjie nie – dis ‘n heeljaar besigheid,” 

vertel Jan.

“As dit nie perskes en pruime is nie, is dit appels, pere, sitrus en bessies. Ons verskaf ook pakmateriaal aan die aarbei- en bloubessieboere. “Die appel- en peerbedryf is ons grootste klante. Ons voorsien pakmateriaal aan 70% van die bessiemark, 35% van die kernvrug-mark aan die meeste van die groot vrugteplase wat deel van die ongeveer 7 000 ha in die Langkloof uitmaak,” vertel Jan.

“Die kartonne word volgens elke klant se behoeftes verpersoonlik, of dit nou vruggroottes of handelsmerke vir die verskillende markte is. Die karton word hier gevou – volgens behoefte vir die plaaslike of uitvoermark, of vir die verskillende produkte. En ons lewer alles self af met ‘n vloot van agt voertuie wat ons met die Agrimark-tak deel,” beduie hy.

“Die verskillende markte het spesifieke behoeftes. Vir uitvoer na die Europese en Oosterse lande verkies die handelaars spesifieke kartonne met verskillende style en gewigte. Ons moet dus weet waarheen die besendings gaan om die regte materiaal te kan verskaf. Sommige verskaffers wil die produkte in oop, vertoonkartonne hê, terwyl ander produkte in toe houers of sakkies verkoop word. Die produsente pak ook volgens heersende pryse, wat van dag tot dag kan wissel. Ons moet die hele tyd kreatief en aanpasbaar wees,” verduidelik Jan.

‘n Relatiewe nuwe ontwikkeling in die streek is die skadunette wat bo-oor appel-, pere- en bloubessie-aanplantings gespan word. Nie alleen help dit om die oeste teen hael, wat gereeld in die Langkloof voorkom, te beskerm nie, maar ook om die kleur van appels en pere te bevorder. En dis nie net grys en swart netmateriaal wat verkoop word nie, maar ook die produkte wat vir die oprigting van die strukture nodig is: pale, draad en talle ander benodigdhede. Volgens Anton is dit ‘n nuwe bedryfsvertakking vir Agrimark Joubertina. 

Jan glo dat Pakmark ‘n unieke markvoordeel het omdat hulle finansiering kan verskaf en omdat hulle produkte volgens spesifieke behoeftes kompeterend kan aanbied.

“Goeie diens, kwaliteit produkte en stiptelike lewering bly ons vernaamste prioriteite. Dit help ons om miljoene rande se voorraad per jaar te kan verskaf. Ons ervaring help ons om voor in die ry te bly waar dit kom by die verskaffing van pakmateriaal,” verduidelik Jan, wat al meer as 20 jaar in die verpakking- en vrugtebedryf is.

Buiten boere wat nou hul boerderypraktyke aanpas, soos die oprigting van skadunette, word nuwe aanplantings soos bloubessies en sitrus ook gedoen. Agrimark Joubertina en Pakmark is opgewonde en optimisties oor die uitbreidings wat op landbougebied in die Langkloof wag en is gerat om produsente met diens en produkte by te staan. 

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.

Visit Joubertina Agrimark