Deur Clifford Roberts  |  Foto’s Michel Dei-Cont

Tiaan van Zyl besef hoe groot die skoene is wat hy op Vredenburg moet vol staan. Dié nuwe Agrimark-bestuurder is in die midde van die Covid-19-pandemie aangestel. Soos tradisie vereis, is Tiaan se naam by sy aankoms in ‘n stokou register gevoeg by dié van slegs drie ander voorgangers sedert 1946.

Die eerste handtekening in daardie register behoort aan Chris van der Merwe. Daardie jare was daar nie graansilo’s nie en koring moes op Saldanha-stasie gegradeer word. Volgens Weslander-koerant is die eerste graanstoor daar eers in 1950 gebou. 

Vandag verskyn die Kaap Agri-ikoon op verskeie geboue: die Agrimark Grain-graansilo’s, twee Expressmark-geriefswinkels by besige vulstasies; die brandstof-depot; die Liquormark-winkel (wat tans as gevolg van die nasionale verbod op drankverkope toe is); en die Agrimark-tak en -stoor op die hoek van Breë- en Hoofstraat. 

Die Expressmark-winkels met hul Fego Caffé-restaurante vaar goed: “Ons het die afgelope twee jaar Famous Brands se Fego Winkel van die Jaar-titel gewen,” sê bestuurder Tommie Jenner. “Die klante-wisseling is hoog, dus moet my dienslewering tops wees.” Sy Expressmark by die Total-vulstasie was een van die eerstes in die groep toe dit in 2014 oopgemaak het. Saam bedien die twee persele duskant 30 000 voertuie per dag.

By Agrimark Grain-silo’s kan dit ook besig raak, sê bestuurder Aubrey Marthinus wat al 16 jaar by die maatskappy is. Daar is tans vier silo’s in gebruik, met ‘n algehele kapasiteit van 12 000 ton, wat hoofsaaklik vir koring gebruik word. Hawer word ook in die stoor geberg wanneer graanprodusente addisionele spasie benodig. Boere van die omgewing lewer aan die silo’s vir gradering en verspreiding.  

Hierdie afdelings is almal deel van die Kaap Agri-Groep wat die groter streek bedien – ook die buurtakke in Darling, St. Helenabaai, Moorreesburg en Piketberg. Maar, soos Tiaan uitwys, is die boere se behoeftes hier eie aan die streek. “Ons grond en klimaat is anders en ons kry meeste jare maar 250 mm reënval.”

Hier word hoofsaaklik met koring, skaap en bees geboer. Veevoer-aanplantings vir eie gebruik word ook gedoen. Die Agrimark-tak se bedrywighede weerspieël dus ook die behoeftes van landbou in sy omgewing. 

Tiaan vertel dat die tak tans 8 300 produklyne aanbied waarvan brandstof die grootste deel is. Verf is tans ‘n groot verkoper saam met die tradisionele reeks giwwe, kunsmis en boumateriaal. Hondekos is ook ‘n groot verkoper. “Ons buitelewe-afdeling kry ook groot aftrek omdat die natuurskoon van ons kuslyn ‘n groot trekpleister vir besoekers is en ook ‘n deel is van die Weskus-leefstyl,” sê Tiaan.

Nieteenstaande is die streek se ekonomie hard geslaan deur die sluiting van ArcelorMittal se reuse Saldanha Staal-aanleg aan die einde van verlede jaar. Heelwat klein ondernemings het in die slag gebly. Voor dit was daar die jare van strawwe droogte en ná dit, Covid-19.

Verkope die afgelope paar maande onder die regering se inperkings, is gekenmerk deur groei in voere, wat deel van rampverligting was. “Ons het ‘n toename gesien in aanvraag na kompos, potgrond en saad, soos mense meer by die huis begin tuinmaak het om hulle besig te hou.”

Tiaan sê hulle is dankbaar vir die breë en gevestigde klantebasis wat Agrimark hier opgebou het. Nietemin kyk hy hoe hul produkreeks aangepas kan word. “Ons wil graag ons produklyne uitbrei om groter prys-verskeidenheid te bied,” sê hy. 

Hulle is ook voortdurend op die uitkyk vir nuwe neigings, waarvan hidroponiese-stelsels een moontlikheid is. “Ons kry al meer mense wat instap op soek na pype en komponente vir hierdie doel, maar op hierdie stadium is dit grotendeels vir klein, huishoudelike gebruik.”

‘n Groot bron van inligting oor nuwe moontlikhede, is sy eie personeel, vertel Tiaan. “Ons kry vrae van klante en só leer ons ook. Ons is ‘n lekker sterk span. Dis regtig soos ‘n gesin wat vir mekaar omgee, en ek dink dis veral wanneer dinge buite moeilik raak, dat ons nader aan mekaar beweeg en saam sterker word.” 

Hulle is ook bewus van hul sosiale rol in die plaaslike gemeenskap. Tot onlangs sou die tak by die CANSA Relay For Life-geleentheid betrokke wees, toe dit weens die pandemie gekanselleer is. Personeel het ook ‘n plaaslike laerskool met die insameling van skryfbehoeftes gehelp. Dis duidelik dat hulle nie net vir mekaar omgee nie, maar ook vir die hele gemeenskap.

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.

Visit Vredenburg Agrimark