Deur Bianca du Plessis | Foto’s Michel Dei-Cont

Ná 2019 se droogte en 2020 se maande van inperkings, is die golwende garslande buite Caledon balsem vir die siel. Nóú is die tyd om trekkers en implemente in orde te kry, want die komende oes het die potensiaal om ʼ’n baie mooi een te wees. As dit by aankope en dienslewering kom, trek die span van Kaap Agri Meganisasie saam soos ‘n goed geoliede masjien. 

Takbestuurder Dewald Bronkhorst het sy loopbaan in die Swartland as ‘n werktuigkundige begin waarna hy homself as takbestuur- der bekwaam het. Die Kaap Agri Meganisasie-tak op Caledon,  is in Augustus 2014 gestig en Dewald het in 2015 die bestuur van Kaap Agri Meganisasie se hooftak in die Overberg oorgeneem. 

Die tak se agentskapprodukte bestaan uit die volle reeks New Holland-trekkers, -stropers en -spuite, sowel as Radium-kalkstrooi- ers en -bossiekappers, Nobili-waaierspuite, Berthoud-balkspuite, Väderstad-planters en Ausplow-onderdele vir planters. Die Ausplow- onderdele word deur die Kaap Agri Meganisasie-tak op Bredasdorp ingevoer en deur dié tak en die Caledon-tak versprei.

Dewald en die bestuurders van die omliggende Agrimark-takke ondersteun mekaar wedersyds. Hy was juis vroeër in die week by Hermanus Agrimark en moes namens die Bredasdorp-tak ‘n bad optel om dringend by ‘n kliënt in Napier af te laai. “Só help ons almal mekaar,” meen hy. 

Die gees op Caledon is aansteeklik. Die span van twaalf se kameraderie en lighartige geskerts dra duidelik by tot hul goeie samewerking. Die werkswinkel het vier werktuigkundiges en twee assistentwerktuigkundiges. Daar is altyd ‘n werktuigkundige aan diens om herstelwerk op plase te doen. “Want ‘n ding breek mos nooit op ‘n Saterdag nie,” sê Dewald. “Hy breek mos altyd op ‘n Saterdagaand.” Met sewe bakkies het die Caledon-tak genoeg wiele om verskeie kliënte tegelyk te besoek. 

Benewens goeie onderlinge samewerking, is Caledon Meganisasie ook uiters gefokus op bemarking. Sosiale media word gebruik om winskopies en nuwe voorraad te adverteer. Die maandelikse spesiale aanbod word ook deur ‘n WhatsApp-groep en via e-pos aan klante versprei. 

“Die prys van hierdie items word op streekvlak vasgestel en is dieselfde by al drie Meganisasie-takke in die streek – Bredasdorp, Caledon en Elgin,” sê Dewald. 

Danksy ‘n oorvloed van takbokke in die area, kry Dewald die geleent- heid om saam met kliënte te gaan jag. Hy gee toe dat die geselskap hom meer aanstaan as die skietery. “Dit skep ‘n vriendelike grondslag om ons kliënte beter te leer ken,” sê hy. 

Die span is met ons besoek besig om ‘n massiewe New Holland- stroper, ter waarde van R4 miljoen, te diens. “Die groot stropers hou ‘n leeftyd,” meen Dewald. Die tak koop en verkoop ook tweedehandse masjiene, maar oor die algemeen werk hulle selde op baie ou masjiene. “Indien dit so is dat jy ‘n boer se rykdom aan die toestand van sy implemente kan meet, dan sou ek sê ons boere doen uitstekend,” sê Dewald.

Alle produkreekse en onderdele word in die buiteland vervaardig en ingevoer. Vanweë die wisselkoers neem die prys van ‘n nuwe masjien so vinnig toe dat trekkers en stropers nie sommer hul waarde verloor nie. “Wanneer die boer ‘n trekker wil verkoop, kos hy gewoonlik soveel as toe die boer dit oorspronklik gekoop het. Mits dit natuurlik nie té oud is nie,” sê Dewald. 

Die Caledon-span ploeg terug in die gemeenskap deur kwartaalliks hondekos aan ‘n plaaslike dierebeskermingsvereniging te voorsien. Voor die staat van inperking gelei het tot die sluit van skole, het die tak ook kospakkies voorsien aan ‘n projek wat nasorg aan voorskoolse kinders bied.   

Benewens skaap, bees en die gewasse waarvoor die Overberg bekend is, ervaar die streek ‘n toename in bessie-aanplantings en die vestiging van olyfboorde. “Bessieboere benodig smaller trekkers met kleiner spuite, wat ons kan voorsien. Die area het ook wingerd en vrugteboorde met appels, pere en suurlemoene,” sê hy. Volgens Dewald koop die saaiboere die groot masjiene en die vrugteboere koop die kleintjies. “Elke nou en dan koop ‘n vrugteboer ‘n 100pk trekker, want hulle soek iets wat die aarde van sy wortels af kan trek, maar dan pas die trekker nie tussen die rye in nie,” sê Dewald.  

Die verkoop van trekkers en stropers het ook ‘n positiewe impak op die werkswinkel. “As jou verkope goed is, is jou werkswinkel outomaties besig. ‘n Trekker word voor aflewering gediens, ‘n werktuigkundige vergesel die trekker tydens aflewering, die eerste twee dienste word gratis gedoen en dan is daar ook herstelwerk wat onder waarborg gedoen word. Met elke trekker wat jy dus verkoop, word jou werkswinkel minstens vyf keer benut.” Maar die tak se hersteldienste is nie beperk tot die tipe trekkers en stropers wat deur hulle verkoop word nie. “Die manne is so ervare, ons kan enige fabrikaat voertuig met gemak herstel,” beaam Dewald.

Benewens die bemarking van maandelikse winskopies en die bekendstelling van nuwe produkte, is die tak se daaglikse fokus op dienslewering in die werkswinkel. Die werkswinkel is opvallend netjies en agtermekaar. Tertius Mouton, ‘n spesialis-werktuigkundige met 43 jaar ondervinding, werk sedert 2014 hier. Tertius is besig om die diagnostiek van ‘n stroper op sy skootrekenaar te bekyk. Wanneer dit by moderne, elektroniese modelle kom, neem Tertius sy skootrekenaar saam plaas toe om die foutiewe masjien se diagnostiek te toets. “Hier in die werkswinkel gebruik ek Etim-sagteware wat ‘n internet-konneksie en data vereis, maar op die plase gebruik ek Etim-Go wat op my skootrekenaar gelaai is,” sê hy. 

Dit wil voorkom of Caledon se tradisionele koringlande plek gemaak het vir gars en Dewald bevestig dit ook. “Die area kweek oorwegend gars wat aan SAB gelewer word. Hulle het in 2019 ‘n Radium-stroper en New Holland se industriële laaigraaf en onderdele by ons gekoop, sowel as herstelwerk hier laat doen,” sê Dewald. 

Dit is moeilik om 2020 in woorde te omskryf, maar ná hierdie “eienaardige” jaar, sien Dewald en sy span uit na ‘n besige seisoen. “Op hierdie stadium lyk dit baie mooi. Ons verwag ‘n goeie oes. Maar party plekke raak nou ‘n bietjie té nat,” voeg hy met ‘n skaam laggie by, want ná die erge droogte kla ‘n mens nie sommer oor reën nie.

Met hul ondervinding, toewyding en goeie samewerking, is die Caledon-span van Kaap Agri Meganisasie slaggereed om puik diens te lewer. 

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.

Visit Caledon Meganisasie