Goeie diens, dag of nag

Deur Danie Keet
Foto’s Michel Dei-Cont

Agrimark Mechanisation op Robertson is stil vir ‘n weeksdag. En die rede? Almal is hard aan die werk. Die hart van die oesseisoen klop polsend en dis nou die verkeerde tyd vir implemente om te breek. Nou moet masjiene wat onklaar raak, so spoedig moontlik herstel word en produsente moet seker wees hulle kan op die tak se nommer druk – letterlik enige tyd van die dag of nag.

Rudi Kruger het onlangs die leisels oorgeneem en met sy ervaring in die padvervoerbedryf, is hy ideaal geplaas om die herstel en instandhouding van die streek se swaarmasjinerie te hanteer.

“Ons grootste rol is nou om te verseker dat die masjiene aan die gang bly sodat die produksiesiklus nie in hierdie kritiese tyd weens onklaar toerusting gekortwiek word nie. Ons werkswinkel is stil omdat ons werktuigkundiges almal op die oomblik op die plase besig is om ons produsente se meganiese probleme uit te sorteer.”

Agrimark Mechanisation bied ‘n volledige diens vir landboutoerusting aan. “Dit gaan nie net oor die verkoop van ons wye verskeidenheid landbou-implemente nie. Die naverkope-diens is vir ons ewe belangrik en dit is seker een van die belangrikste aspekte van ons diens. As ‘n produsent twee-uur die oggend sy parsmasjien aan die gang wil kry en daar is iets fout, dan moet ons daar wees om te gaan help. Dit gebeur dikwels dat ons werktuigkundiges deurnag moet werk om te help dat die produsent se probleme uitgestryk word.”

Die tak plaas ‘n groot premie op naverkope-diens en hulle het drie diensvoertuie waarmee hulle produsente op hul plase kan gaan bystaan. Die bakkies is toegerus met al die noodsaaklikste toerusting om herstelwerk op plase te doen. Indien dit by nadere ondersoek duidelik word dat onderdele vervang moet word, is daar altyd iemand van die tak wat dit vir hulle kan neem.

Die uitgebreide onderdele-afdeling word deur Jaco van Zyl bedryf. Jaco ken die produkte baie goed, dus word ‘n kliënt baie vinnig reggehelp. Die onderdele-afdeling hou voorraad van die meeste onderdele wat nodig is om die implemente in stand te hou. Die rakke is netjies gepak en goed georganiseerd sodat kliënte maklik gehelp kan word.

Rudi vertel dat al die werktuigkundiges spesialis-opleiding by die New Holland-fabriek ontvang het en deeglike kennis van die masjinerie se werking het.

“Ons is New Holland-agente en verkoop ’n hele reeks van hul produkte – onder andere Braud-parsmasjiene en -trekkers, maar ons is ook agente vir bossieslaners en spuitpompe en vele ander landbou-implemente. Daar is veral ‘n wye reeks trekkers, van die standaardgrootte-trekkers tot die smaller, doelgemaakte wingerdtrekkers. Die trekkers as geheel word uit die VSA ingevoer, vanwaar die meeste van ons onderdele ook kom,” vertel hy.

“Ons verkoop ook verskeie Braud-oesmasjiene wat al hoe gewilder raak hoe groter die druk op die verskaffing van arbeid toeneem. Die oesmasjien is wel baie duur, maar dit is ten volle toegerus met GPS-koördinering, elektroniese skerms waarop al die stelsels aangedui word en natuurlik ook lugversorging.

“Buiten die feit dat ons werktuigkundiges deur New Holland opgelei is, het hulle ook baie jare se ervaring in die instandhouding en herstel van landboutoerusting. Fanie Delport is ‘n senior dieselwerktuigkundige en hy is alom in die omgewing bekend vir sy uitstekende kennis. Hy is ook opgelei om diagnosering en program-opdatering te doen met die TSE-stelsel, ‘n rekenaarprogram vir New Holland-toerusting, en sodoende kan probleme vinnig geïdentifiseer en opgelos word.” Fanie word goed ondersteun deur twee ander gekwalifiseerde dieselwerktuigkundiges, Douw en Benjan, wat ewe gewild onder kliënte is en hulself uitstekend van hul taak kwyt.

Die werktuigkundiges volg ‘n program waarvolgens hulle die produsente voor die begin van die seisoen besoek en hul masjiene dan inspekteer om te bepaal of noodsaaklike instandhouding of herstelwerk nodig is.

“Hulle sal dinge saam met die produsent evalueer nadat hulle die toestand van die implemente geïnspekteer het, voorstelle oor instandhouding of herstel maak en dan saam besluit watter opsie die beste is en watter instandhoudingswerk of vervanging van onderdele krities noodsaaklik is. Sommige produsente verkies om maar eers aan te gaan, maar as meganiese probleme waarskynlik is, sal ons werktuigkundiges aanbeveel dat onderdele eers herstel of vervang moet word voor die masjiene gebruik word.”

Agrimark Mechanisation doen ook elektriese herstelwerk aan implemente, werk aan dieselenjins, sowel as die instandhouding en herstel van drukstelsels vir hidrouliese pompe. Dit is alles deel van die opleiding wat die werktuigkundiges ontvang het en hulle is dus goed daarvoor toegerus.

Die tak bedien ‘n groot area tussen Ashton, Worcester, verby Stormsvlei en Villiersdorp tot teenaan die N2. In sommige gevalle is daar produsente wat grond in verskillende areas in hierdie streek bewerk en die tak se personeel staan dus gereed om op enige plek van diens te wees.

So al is die werkswinkel stil, is dit duidelik dat die personeel hier ten volle gefokus is om seker te maak die masjiene sal dag en nag aan die gang bly.

Robertson
Voortrekkerstraat
Tel: 023 626 6005

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.