Riebeek-Wes is ‘n juweel in die Swartland en in hierdie vrugbare vallei word ‘n verskeidenheid produkte verbou. Sinoniem met hierdie dorpie knus aan die voet van Kasteelberg, is olywe, goeie wyn en luilekker kuierdae. En die Agrimark-winkel is sentraal tot dienslewering in hierdie geweste.

Met uitnemende diens, uitgebreide voorraadgroepe en entoesiastiese personeel as hul uitgangspunt, bedien Agrimark Riebeek-Wes die dorp se gemeenskap en die uitgebreide streek se produsente. Dit word alles onder die leiding van Fergie Thompson, die takbestuurder, gedoen.

As ‘n seun van die vallei wat hier grootgeword het en as deel van Kaap Agri se kwekelingbestuurdersprogram in verskillende hoedanighede by verskeie takke diens gedoen het, sê hy: “My sirkel is voltooi – ek is ek terug in die vallei.”

Agrimark Riebeek-Wes is ingerig om produsente uit die Riebeekvallei van ‘n groot verskeidenheid produkte te voorsien.

Daar is heelwat graanverbouers in die omgewing wat hoofsaaklik op koring en kanola fokus, maar daar is ook groot produsente van olywe, tafel- en wyndruiwe, amandels, sitrus en pruime.

“Die produsente se behoeftes is baie uiteenlopend, maar gelukkig is ons in die posisie om hulle van die nodige produkte te voorsien. Die COVID-pandemie het van ons aktiwiteite gekortwiek, maar ons kon steeds goeie diens lewer. Vir my is dit belangrik om ‘n hegte verhouding met die produsente op te bou deur op hul plase te kom, te sien waarmee hulle besig is en saam met hulle seker te maak dat hul behoeftes aangespreek word”.

Agrimark Riebeek-Wes het ‘n groot voorraad omheinings-materiaal, verskillende draad-tipes en alles wat nodig is vir die oplei van wingerde. Al hoe meer produsente span nette oor hul vrugte en hulle verskaf ook die hele reeks pale, nette, kabels en draad wat hiervoor nodig is.

Die produkte in die winkel word op twee vlakke aangebied met boumateriaal, hardeware, ‘n uitgebreide verfafdeling en buiteleweprodukte op die onderste vlak. Die boonste vlak huisves die klere- en tuinbou-afdelings, produkte vir troeteldiere en verskeie ander produkreekse.

Behalwe die groot verskeidenheid hondekos en troeteldier-bykomstighede, is daar ook gereedskap en elektriese toebehore, swembadprodukte, skoonmaakmiddels, pype en koppelings vir loodgietery en dies meer, alles netjies uitgestal. Die klerereeks sluit ‘n groot verskeidenheid van Jonsson in – van oorpakke, skoene en waterstewels tot hemde en reënbaadjies. In die buitelewe-afdeling kan klante braaibykomstighede, swartpotte, roosters, braaitange en alles wat nodig is vir ‘n geselligheid in die buitelug bekom.

Aan die agterkant van die winkel is ‘n groot stoor waar boumateriaal, sement, veevoer en kunsmis geberg word. Die reuse-agterplaas huisves ook brandstofpompe.

Die splinternuwe Garden Zone-kwekery bied ‘n wye verskei-denheid plante, potte, kunsmis en besproeiingsprodukte aan.

“Ons het tans 23 werknemers wat mekaar op enige van die twee vlakke kan aflos,” vertel Thompson. “Dit is belangrik dat almal weet wat in die verskillende afdelings gedoen moet word. Klante raak gewoond aan die uitleg en waar produkte gehou word. Ons probeer om die koop-ervaring so gerieflik as moontlik te maak. Daar is betaalpunte en in- en uitgange op beide vlakke.”

Personeel by die Agrimark Riebeek-Wes is getrou, deeglik opgelei en het baie ervaring. Magda Gagiano, wat die adminis-trasie behartig, is al meer as 30 jaar by die winkel betrokke. Sy is ook Thompson se eie “naslaanbron” en sy ken die winkel, produkte en klante baie goed.

Agrimark Grain op Riebeek-Wes

Deel van Kaap Agri se bedrywighede op Riebeek-Wes en ‘n integrale diens vir die graanbedryf in die streek, is Agrimark Grain, ‘n bergingsfasiliteit vir koring, kanola en mielies.

Dewald Zeelie is in beheer en sorg dat die derduisende tonne graan wat jaarliks hier geberg word, in uitmuntende toestand gehou word totdat dit vir verwerking na die meulens gaan.

“Ons hanteer jaarliks tussen 40 000 en 50 000 t koring, 3 000 t kanola en ongeveer 200 t mielies. Die afgelope seisoen wat verby is, het ons net oor die 56 000 t graan hanteer. Dit word geberg en versorg totdat dit na meulens soos dié van Premier en Sasko, sowel as die plaaslike kleiner Groep 35, versend word waar die meel en ander produkte dan vervaardig word.”

Volgens Zeelie word die graan teen ‘n spesifieke voggehalte geberg en een van die vernaamste verantwoordelikhede van die silo is om daardie optimum toestand te handhaaf totdat die graan versprei word. Dit vereis ‘n spesifieke temperatuur, ‘n voggehalte van ongeveer 13% vir koring en tussen 8% en 12% vir kanola, dat insekte en kalanders uitgehou word en om te sorg dat daar nie vrot kolle weens nattigheid vorm nie. Dit word beheer deur sondeerders wat die temperatuur van die graan op verskillende dieptes in die 25 m hoë silo’s meet. Groot waaiers sorg dat lug deur die graan sirkuleer wat help om die produk in optimale toestand te hou.

Daar is ongeveer 25 produsente wat dié Agrimark Grain-tak gebruik. As al die buise vol is, kan hulle sowat 31 000 t graan berg.

“By aankoms word die graan geweeg en die voggehalte gemeet, dan word dit gegradeer en met vervoerbande en bakkiehysers van die aflaaipunte tot in die silo’s gelaai.”

Daar is tans sowat 7 000 t graan in die buise en, met die nuwe seisoen net om die draai, gaan dinge besig bly. As Agrimark Grain se silo op Riebeek-Wes vol is, word oortollige graan na hul graanbunker op Malmesbury of een van die 14 ander silo’s in die Swartland gestuur. Die kanola-oes begin reeds in die middel van Oktober en die koringoes kort daarna.

Alhoewel dit taamlik rustig op die terrein lyk, is daar baie dinge wat agter die skerms aan die gang is en daar is groot afwagting op die nuwe oes wat beloof om ‘n grote te wees.

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.