Clanwilliam se Hoofstraat is, as jy dit nog nooit of lank laas gesien het, altyd ’n aangename verrassing. Historiese geboue wat in restaurante omskep is, oulike winkels en, waar die pad na regs draai, die Ou Tronk Museum wat eer bring aan die oorspronklike Khoi- en Sanbevolking sowel as bekendes van die omgewing, soos grapjas Tolla van der Merwe en die digter C. Louis Leipoldt.  Soos dit die hartjie van die rooibosteebedryf betaam, het Clanwilliam ’n gesonde aantal teehuise waar dié wêreldbekende brousel geniet kan word. Ons skiet verby al die besienswaardighede, na die groot Agrimark-aanleg aan die rant van die middedorp.

Die tak is ruim en koel – ’n bonus in Clanwilliam gedurende Maartmaand – en huisves op die oog af ’n gesonde verskeidenheid items. “Ek hou van julle tak,” sê ek in die verbygaan aan ’n werknemer. “Ek ook!” antwoord sy geesdriftig terug.

Bestuurder Jaco Louw het in Junie 2012 by Agrimark aangesluit. Die tak, met ’n vulstasie en twee pakstore, is in Augustus 2008 geopen. Landbou sorg vir ongeveer die helfte van die tak se inkomste, gevolg deur kleinhandel en brandstof. Hul landbouverkope bestaan groten-deels uit kunsmis, chemikalieë, brandstof en pakmateriaal. 

Clanwilliam is die geboorteplek van kommersiële verbouing van rooibos. Die tak voorsien sekels waarmee geoes word, sowel as lemme vir kerfmasjiene, slypwiele om die lemme skerp te hou en teeborsels vir die bewerking van teebane. Teeboere gebruik hoendermispille as ’n komposmengsel, wat ook deur die tak aangehou word. 

Die streek is ook ’n groot verbouer van sitrus en die sitrusplase koop pakmateriaal, bokse, nette, snoeiskêre, kunsmis en chemikalieë aan. Vee, skape en groente soos aartappels en groenmielies kom ook voor. Op ’n rak sien ons ’n wye verskeidenheid snoeiskêre, met ’n groot hoeveelheid klein, skerp skêrtjies. “Dis die uitknipskêrtjies vir lemoene. Ons het sopas voorraad gekry, want oor drie weke begin die oes,” sê Jaco. 

TEGO Plastics se nuwe grootmaathouers is ideaal vir die oes- en na-oesprosesse van vars groente en vrugte soos sitrus. Die houers is in oorleg met Kaap Agri en Suid-Afrikaanse boere ontwikkel om skade te verminder. Omdat TEGO ’n filiaal van Kaap Agri is, kan die grootmaathouers direk deur die tak bestel word. 

Volgens Jaco bestaan hul kleinhandelverkope grootliks uit sement, hondekos en gas. “Ons verkoop baie gas,” beaam hy. “Die area trek baie seisoenale werkers en hulle koop gas om mee te kook, sowel as lamp-olie.” Die tak het twee lampolietenke van 2 000 liter elk. In die wintermaande verkoop hulle tot tussen 3 000 en 5 000 liter lampolie per maand. 

Clanwilliam lê teenaan die Cederberge wat ’n trekpleister vir bergklimmers en stappers is en die tak voorsien in hul basiese kampeerbehoeftes. Clanwilliam se dam en riviere bied heelwat opsies vir hengel, mits die watervlakke dit toelaat, en die tak sorg ook vir die vakansie-visserman se behoeftes. Die dam is tans 23% vol en natuurlik hoop almal vir goeie winterreën. Volgens Jaco het die dam se watervlak voorverlede jaar onder 5% gedraai, wat té laag is om akkuraat te meet. Die reënval in 2019 was wisselvallig. Sommige rooibosboere het genoeg reën gekry, maar ander het nie. “Rooibos is ’n heel ander game,” sê Jaco kopskuddend. “Maar jy sal self by die boere hoor . . .”

Jaco se filosofie teenoor sy medewerkers, sy klante en die publiek kan in twee woorde opgesom word: be kind. Hy verduidelik: “Dis so maklik soos dit. Met almal.” 

Clanwilliam Agrimark se span van 26 sluit die landboubemarker Joepie Brand in. Hy verdeel sy tyd tussen Clanwilliam en Graafwater. Die tak het ook ’n Finansiële Dienste-afdeling vanwaar ’n kredietbestuurder, Willem Visagie, verskeie takke in die streek bedien.

Beurtkrag slaan toe terwyl ons met Jaco gesels, maar die lugverkoeling in sy kantoor suis geruisloos voort. “Ons het vroeër met ’n ou kragopwekker gesukkel wat nie alles kon trek nie. Dis niks lekker as jou lugverkoeler afkap en dis 46 °C nie!” Gelukkig het hulle nou ’n kragopwekker wat “in ’n heel ander klas is” en die hele aanleg naatloos aan die gang kan hou. Ons loop ’n draai deur die tak se ruim werf. Een pakstoor bevat pakmateriaal en Nulandis chemikalieë, en die ander ’n verskeidenheid van kunsmis, voere en sement. Daar is ’n groot laai-area met rye TEGO-grootmaathouers wat op mekaar gestapel is, gereed vir die volgende oes. 

Die tak se boumateriaal-afdeling is ten volle toegerus vir projekte wat ’n breë spektrum dek, van maatskappye wat huise en kantore bou, tot klante wat self kleiner projekte aanpak. Die tak beskik oor ’n bourekenaar wat ondersteuning aan konstruksiemaatskappye bied met berekeninge vir bouprojekte. Die verfafdeling verseker dat elke projek, groot of klein, professioneel afgerond kan word. 

Agrimark Clanwilliam se rakke is vol interessanthede wat vir my lyk of dit uniek aan die tak is. Ek en die fotograaf merk albei die groot hoeveelheid voëlsaad op. Ek wil by winkelklerk John Booysen weet of Clanwilliam se mense groot duiwetelers is. “Ja,” meen hy. “Hier’s ook baie budgies.” 

Heelwat rakspasie word afgestaan aan alles wat met besproeiing te make is en natuurlik is daar ’n vertoonrak by die kassiere met ’n goeie verskeidenheid rooibostee-produkte en beskuit. 

Daar’s baie wat ’n mens van ’n dorp of area kan aflei as jy na die produkte op die plaaslike Agrimark-tak se rakke kyk. Ek sien allerhande produkte om vlieë en muggies mee te vang. My oog val op ’n boks muisvalletjies nes dié wat ek laas as kind gesien het. Ek besluit om een vir my seuntjie te koop. By die kasregister is die Junior Bestuurder, Surina Ferreira, besig om tannie Arina Smit te bedien. Tannie Arina gee my onhandigheid met die muisvalletjie een kyk en net daar kry ek ’n vinnige les in muisvang. Sy stel die wippie behendig en verduidelik ek moet eerder grondboontjiebotter as kaas vir enige muis se laaste maal uitsit.

“Wat ook goed werk, is om ’n paar druppels soetwyn oor rotgif te gooi,” vertel sy met ‘n knip van die oog. 

Met ons aankoms het ek gewonder oor al die grassnyers by die winkel se ingang, want hierdie tyd van die jaar is daar nie veel gras op die dorp nie. Maar dis klaarblyklik ’n goeie tyd om in ’n grassnyer te belê – net voor die winterreën kom – want toe ons vertrek, is Jaco juis besig om ’n grassnyer te verkoop. 

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.

Visit Clanwilliam Agrimark