Keimoes Agrimark is ‘n miernes van bedrywighede –ondanks die feit dat die somerson skroeiend neerbrand met die temperatuurmeter hoog in die rooi, verby die 40 °C – en dis al ná 16:00.

Deur Danie Keet | Foto’s Anina Lonte

Droogdruiwe-produsente kom en gaan en inkopiegangers besoek die winkel met sy koel ruimte en netjiese vertoonrakke asof dit maar net nog ‘n dag in hierdie versengende hitte is – hulle is duidelik al gewoond daaraan.

Hendro de Witt, die takbestuurder, is al sedert 2014 by die maatskappy betrokke en het sy pad tot by bestuursvlak oopgewerk. Hy ontvang ons gulhartig en nooi ons met ‘n botteltjie yskoue water na sy kantoor.

Hy het verskillende poste beklee voordat hy na Keimoes verplaas is. Sy vordering wil gedoen wees en dien nie net as bewys van sy deursettingsvermoë nie, maar ook as motivering vir sy personeel, vir wie hy die hoogste agting het.

Die inhoud van die tak getuig van sy oplettendheid en bewustheid van sy klante se behoeftes. Sy voorkeur vir verkope en personeelbestuur is ook duidelik merkbaar.

Danksy die behuisingsuitbreidings op die dorp en ‘n groter aanvraag na boumateriaal, kon Keimoes Agrimark inspring en ‘n groter verskeidenheid bouprodukte aanbied. Die personeel het besef dat daar potensiaal vir boumateriaal op die dorp was en hulle het daadwerklik begin om die afdeling uit te brei. Klante het dit gou besef en het al hoe meer van hul bouprodukte hier kom aanskaf.

Deur middel van ’n netwerk verskaffers kan die tak nou ook staalprodukte verskaf met uiters mededingende pryse wat vir klante beding word.

Ter ondersteuning van die ontploffing in behuising op die dorp en in die streek het Keimoes Agrimark sy eie Duram-menger aangeskaf en so is die tak se verfafdeling vergroot. Die afdeling word beman deur ervare personeel wat die produkreekse baie goed ken. Hulle voorsien kopers van goeie raad oor verfkeuses en hoe om verskillende kleure te kombineer. Hierdie bobaas verfkenners kan enige kleur op die omvangryke kleurkaart meng, in presies die skakering wat die klant verkies.

Die afgelope tyd het Keimoes Agrimark sy horisonne verbreed en het hulle meer begin fokus op wat die gemeenskap en algemene verbruikers wou hê. Die bou-afdeling is ‘n sprekende voorbeeld hiervan en die groei van meer as 180% oor die afgelope jaar, dien as ‘n bewys dat daar in Keimoes se mense se behoeftes voldoen is. 

Die tak se voorraadgroepe is ook uitgebrei. Met die personeel se hulp, is ‘n wyer reeks produkte vir kleinhandel-verbruikers geïdentifiseer. Nuwe produklyne is gevestig en gaandeweg besoek al hoe meer klante die winkel. 

Dit is te danke aan die tak se 16 toegewyde personeellede, insluitend Gerda Oberholzer, wat al 17 jaar daar werk en De Witt se regterhand is, Bennie Strauss, die rybaan-assistent met 13 jaar diens, en Arrie Mowers, wat ook al 11 jaar by die Keimoestak werk.

Omdat die Oranjerivier die dorp omring en soveel van die aktiwiteite deur die rivier beïnvloed word, is daar byvoorbeeld ‘n hengel-afdeling gevestig wat baie gewild onder ‘n groot deel van Keimoes se inwoners is sowel as by besoekers aan die gebied. Dit is ook een van die min winkels wat in visgerei spesialiseer. Hier kan hengelaars visstokke, vislyn, katrolle, aas, kunsaas en ‘n wye verskeidenheid produkte vir varswaterhengel kry.

Keimoes is die middelpunt van die uitgebreide landbou-bedrywighede wat deur die Oranjerivier onderhou word, maar dit is hoofsaaklik droogdruiwe-verbouers wat die grootste persentasie van landbougrond hier bewerk. Enkele veeboere hou ook kuddes op eilande in die rivier aan, terwyl lusern, tafel- en wyndruiwe en ander gewasse gekweek word.

Volgens Hendro is die rosyntjiebedryf die groot geldmaker van die omgewing en Keimoes Agrimark verskaf ook die belangrikste ondersteunende produkte vir hierdie bedryf, produkte soos heining- en opleipale, draad, kunsmis, snoeitoerusting, droogmiddels vir die rosyntjies, plukkiste, droognette en swael vir die beroking van die rosyntjies gedurende die produksie-proses.

‘n Pa en seun wat saam boer kom klop aan die deur terwyl ons gesels. Hulle benodig dringend 200 rosyntjiematte vir die droog van hul nuwe rosyntjie-oes. Hendro is onmiddellik op sy rekenaar, werk blitsvinnig ‘n kwotasie uit, kry dit aanvaar en onderneem om die volgende oggend af te lewer. Nog ‘n tevrede klant. 

Keimoes Agrimark beplan om in die toekoms nog meer uit te brei en onder meer ‘n groter verskeidenheid in die besproeiingsafdeling aan te bied. 

Dis omdat hulle buitengewone diens lewer en ekstra moeite vir klante doen dat hierdie tak deurentyd as die area se voorkeurwinkel gevestig word. 

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.

Visit Keimoes Agrimark