Dienslewering dryf Agrimark se sukses in SA se kosmandjie

Deur Clifford Roberts | Foto’s Mia Truter

Landbou is ‘n kompeterende bedryf waar slegs uitmuntende en innoverende dienslewering kan oorleef en floreer. Een voorbeeld hiervan is Agrimark Marble Hall.

Die sitrusoes is in volle gang tydens ons besoek aan die Loskop-vallei. Waar jy ook al ry, is daar trokke en bakkies op die paaie en mense in die boorde. Agrimark Marble Hall se groot parkeerarea lyk leeg, maar dis nie omdat daar min aangaan nie.

Ná ‘n ruk kom jy agter dat voertuie die heeltyd kom en gaan. Daar is nie tyd om lank tussen die rakke te vertoef nie, want die vrugte moet inkom. Agter, by Agrimark Packaging (voorheen Pakmark), is dit ook ’n miernes van bedrywigheid.

Alles gebeur op ‘n drafstappie. Dis niks vreemds vir Sarel van Rooyen, die takbestuurder, nie. Op ‘n boekrak by sy lessenaar, langs ’n foto van ’n vrou, pryk ‘n sertifikaat vir 10 jaar van getroue diens. Die groot ruite in sy kantoor stel hom in staat om die doen en late in die winkel dop te hou, al bring hy die meeste van sy tyd gewoonlik op die vloer tussen personeel en klante deur.

Hy beskryf dié streek as Suid-Afrika se kosmandjie. Ek lei af dat ‘n winkel soos Agrimark Marble Hall dus nie net van onskatbare waarde in die bemagtiging van produsente is nie, maar dat dit ook ‘n reuse rol in die gemeenskap speel en dat hulle hierdie verantwoordelikheid baie ernstig opneem.

Die vallei is inderdaad die kern van Suid-Afrika se voedselproduksie en dit is ‘n waardevolle bron van uitvoer. Die Sekhukhune-streek lê in die suide van Limpopo. Dit is ‘n reuse landelike gebied, deurspek met nedersettings. Bo en behalwe Marble Hall, het die streek verskeie ander hoofdorpe: Groblersdal, Burgersfort, Jane Furse, Ohrigstad, Steelpoort en Driekop.

Marble Hall is op die grens tussen Mpumalanga en Limpopo, en met die verskuiwing van grense ‘n klompie jare terug, is dit by laasge-noemde ingelyf. Die Loskopdam, wat in die 1930’s gebou is en groot dele van die gebied bedien, is die bron van een van die land se grootste besproeiingskemas. Dit verskaf water aan sowat 16 000 ha landbougrond wat oor ‘n afstand van meer as 550 km strek.

Die gebied se hoofgewasse is sitrus, tafeldruiwe, tabak, katoen en groente, waarvan aartappels die grootste deel – omtrent die helfte – uitmaak. Daar is ook sowat 100 ha bloubessies.

Agrimark Marble Hall se geboue beslaan 3 000 m² in geheel, waarvan net sowat 1 000 m² deur die kleinhandelwinkel in beslag geneem word. Die res word afgestaan aan Agrimark Packaging, ʼ’n onderafdeling van die winkel, wat dit vir hul wye verskeidenheid pakmateriaal gebruik.

In totaal het Agrimark Marble Hall tussen 5 000 en 7 000 produklyne en 19 voltydse werkers wat beide die landbougemeenskap en die dorpsmense bedien. Vir laasgenoemde is die wye verskeidenheid klere in bekende handelsmerke baie aantreklik, want dit sluit werksklere sowel as oorpakke en ander beskermende klere in. Ander produkte wat baie gewild is, is die tuinmaak-, selfdoen- en troeteldierafdelings wat goed toegerus is met hondekos, beddegoed en speelgoed.

Produsente in die streek maak staat op die besproeiingstoerusting wat die winkel aanbied. Pakmateriaal dra egter 50% by tot die winkel se verkope en die uitgebreide produkreeks sluit alle verpakkingskomponente in, soos sakke, kartonne, verdelers, palette, vrugtebakkies, blaaie, kissies en ander items vir die sitrus- en druiwe-produsente.

Sarel vertel dat die sitrusbedryf verlede jaar goed gedoen het ondanks die inperking, want voedselproduksie moes aangaan. ‘n Vraag na vrugte met ʼ’n hoë inhoud van vitamien C het uitvoere fluks laat vorder.

“Saad en kunsmis is ook baie groot, danksy die finansierings-ooreenkomste wat gesluit is. Alhoewel dit nie ʼ’n direkte voordeel is nie, word dit een danksy die verwante verkope van chemikalieë en dies meer,” sê Sarel.

Hy voeg by dat hy graag die rol van finansiering wil uitlig. “Ons bedien die hele Limpopo-streek en die finansieringsafdeling is gevestig toe ons besef het dat jy nie hier besigheid kan doen sonder om finansiering aan te bied nie.”

ʼ’n Groot voordeel vir klante is dat aansoeke vir finansiering nou plaaslik hanteer en goedgekeur word. Op dié manier is Agrimark Marble Hall bemagtig om selfs nog beter diens te lewer en is dit nou selfs makliker om ondersteuning en oplossings aan produsente te bied wanneer hulle die tak met uitdagings kontak. “Die gedagte daaragter is: ‘As ek weet hoe dinge met jou gaan, weet ek hoe om jou beter te help,’” sê Sarel.

Die winkel se voorraadbestuur is ontwikkel om produsente op ander dorpe in die streek by te staan en dienste en produkte word so ver as Tzaneen, Louis Trichardt, Nelspruit en Hoedspruit gelewer. “Dit is deel van die uitdaging in terme van logistiek,” vertel hy. “Jou voorraadbestuur moet absoluut perfek werk, veral gedurende die seisoen.”

Gereelde gesprekke met klante is noodsaaklik om nuwe produklyne te identifiseer en aan te skaf. “Finansiering maak dit makliker om hierdie insig te kry, maar daar is ook deurlopend verbetering in tegnologie wat in ag geneem moet word.”

Hy voeg by: “Op die ou einde soek produsente net iemand wat diens lewer. Jy kan nie alles vir almal wees nie, maar vir diegene vir wie jy dit kan doen, beteken dit baie. Met finansiering het ons die verhouding tussen ons en ons klante verbeter en dit het dinge vir hulle makliker gemaak. Daarmee wen jy lojaliteit.”

Goeie verhoudings met die gemeenskap word verder be-vorder deur middel van gefokusde borgskappe, soos die ondersteuning van studiegroepe en dankie-sê-geleenthede. Dienslewering is duidelik hoog op Agrimark Marble Hall se prioriteitslys.

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.