Agrimark Worcester se perseel is geheel en al ’n eenstopwinkel vir enigiets wat klante uit die omgewing benodig – van landboutoerusting tot toebehore vir huisverbeterings. Die Agrimark-handelstak en Liquormark val saam onder een vaandel en neffens dié geboue, is ’n reuse Pakmark, Meganisasie, Onderdele en Expressmark wat almal deel van die groter Kaap Agri-Groep is.

Agrimark

André le Roux, senior bestuurder van Agrimark Worcester, se glimlag is gul. Kort-kort klop ’n klant aan die deur om blad te skud en ’n paar woorde te sê oor hoe goed die oes vorder.

André was eers vir 14 jaar in die onderwys voor hy sy visier op die landbou gestel het. Hy vertel met smaak: “Ek het grootgeword nie ver hiervandaan nie. As jong seuntjie het ek gereeld saam met my pa koöperasie toe gekom. Nooit sou ek kon droom dat ek eendag hier in die bestuurstoel sou sit nie.”

Bo ons koppe klop en kap dit sonder ophou. Hy verduidelik dat die tak besig is om sonpanele te installeer.

Volgens hom berus sy bestuurstyl op respek en om senior personeel te motiveer om hul kollegas te help om te ontwikkel, hulle onderling tot uitmuntendheid te motiveer en die klante se belange op die hart te dra. Die handelstak het 35 personeellede. In sy oë is die tak se sukses en groei voorwaar ’n spanpoging. “As elke spanlid sy beste lewer, kan dinge mos net makliker gaan,” sê hy nederig.

Sou jy ’n paar van die personeel se diensjare aanmekaar weef, sou jy baie ver verby die brandstofdepot draai: Hilda Auret, ’n adminklerk, én David Cupido, ’n besproeiingspesialis, het elk 40 jaar diens; Tharina Martin, ’n adminklerk, én Aldan Hansen, ontvangsklerk, elk 30 jaar; Bernard Pullen, stoor-assistent is al 27 jaar daar; Engela Smit, verkoopsklerk, 25 jaar; Jacques Bindeman, die landboubemarker, is al twee dekades in diens en selfs die skoonmakers, Hettie Louw en Jackie Cornelissen werk onderskeidelik 23 en 21 jaar daar.

Kundigheid, vertroue en goeie verhoudings laat klante terugkeer. Vra enigeen wat al hande in die hare by Dawid Arendse, 18 jaar lank al die verfkenner, kom aanklop het. Volgens André is hul verfafdeling beslis ook hul beste presteerder. Dit was die eerste Kaap Agri-tak wat Jotun industriële verf verkoop het en kopers kan ook kies uit produkte van Dulux, Plascon en WeatherPrufe. Daar is ook ’n uitgebreide produkreeks vir verftoerusting. En Worcester kan ook spog daarmee dat hulle Automotive voertuig-spuitverf verkoop.

In die landbou-afdeling het hul verkope van pale en net baie uitgebrei soos al hoe meer produsente net-strukture begin gebruik om gewasse teen wind- en reënskade te beskerm.

Worcester se handelstak was die groep se eerste met ’n Jonsson Zone wat ’n volledige reeks werksklere en ontspanningsdrag verskaf.

Hulle klante bestaan uit ’n goed gebalanseerde verskeidenheid van dorpsbewoners en produsente. Die landbou-klante boer hoofsaaklik met wyndruiwe, tafeldruiwe en sitrus (toenemend die afgelope paar jare) en daar is perskes, appels, pere, pruime en appelkose. Daarby is daar en een of twee hoenderboere wat ook gereeld benodighede kom aanskaf.

Daar heers groot opgewondenheid onder personeel as jy uitvra oor die tak se borgskap van die HTS Drostdy se Noord-Suid Derby, wat van 20-25 Maart by die skool gehou word. André sê hy glo daarin om terug te ploeg in sy gemeenskap en dat dit baie opwindend is om by een van die Boland se topskole betrokke te wees. Duisende sportmanne en -vroue en hul families kom om die geleentheid te geniet.

Die tak bedien ’n baie wye gebied wat strek van Botha Kelder tot net voor Villiersdorp, dan tot agter Doringrivier, Scherpenheuwel, Nuy en De Wet tot net voor De Doorns.

Klante geniet die voordeel van ’n afleweringsdiens wat baie tyd spaar en verseker dat die werk op die plaas ononderbroke kan voortgaan. Die tak se produklyne word gereeld aangepas om tred te hou met klante se behoeftes en die laaste paar jaar het paksakke en -lere vir vrugte onder meer baie uitgebrei.

Die droogte bly steeds een van die grootste uitdagings en die uitgebreide besproeiingsafdeling voorsien in bykans elke moontlike behoefte om water doeltreffend te gebruik.

Kaap Agri Finansiële Dienste

Die Agrimark-perseel huisves ook die streekkantoor vir Kaap Agri Finansiële Dienste met Limpie van Schalkwyk as bestuurder. Saam met hom werk Michelle van Jaarsveld en Elizna Botha as finansieringskontroleurs.

Die afdeling bied ’n ondersteuningsfunksie vir die Kaap Agri- handelspunte rondom Worcester en verskaf kredietfasiliteite vir produksie-insetkoste waarvan die grootste komponente pakmateriaal, draad, pale, kunsmis en chemikalieë is.

Limpie sê hulle bied klante verskeie fasiliteite: vir ’n seisoen, vir vestiging asook maandelikse rekeninge. “Ek is baie bevoorreg om te sê dat ons en ons klante nog nooit groot krisisse ervaar het wat afgeweer moes word in die 19 jaar wat ek hier is nie. Landbouklante se behoeftes verander weens klimaatsverandering en die wisselkoers, daarom moet ons fyn luister om oplossings te ontwerp, en met hulp en geduld groei ons almal saam.”

Expressmark

Jomari Bredenhann is die bestuurder van die Expressmark en die silwerskoon winkel en badkamergeriewe getuig van ’n vrouehand. Sy vertel dat hulle 24 uur per dag oop is en hul Fego Caffé-koffie se bone vir elke koppie boeretroos gemaal word voor dit gebrou word.

Die hamburgers, geroosterde broodjies en hoenderrepies is baie gewild en dis veral mense wat by nabygeleë ondernemings werk, wat gereeld inloer vir ietsie te ete saam met hul koffie. Die fritatas, wat baie aan ’n tradisionele souttertjie herinner, word sommer per bord bestel, lag sy, omdat dit só lekker is.

Vir funksies verkoop hulle gerieflike partytjie-skinkborde met koue frikkadelle, pasteitjies en ander happies op en vir die soettande is hul oliebolle legendaries. Alles word vars gemaak en op die perseel voorberei.

Liquormark

By Liquormark is Amanda Lourens en Etienne Prins ywerig aan’t wyne uitpak toe ons inloer. Die netjiese rye stal meer as 40 wynplase se produkte uit en 28 hiervan is wyne uit die omliggende Breederiviervallei vertel sy trots. Dis beslis dié eenstop-plek vir Breederivier-wyne, gesels sy en voeg by: “Dis baie gerieflik as jy vriende wil beïndruk met die nektar van die gode, maar nie tyd het om die mooie vallei plat te ry en by elke kelder te stop nie!”

Etienne sê hulle kan klante met raad en daad bystaan en dis goed dat vroue gemaklik genoeg voel om alleen na die netjiese, skoon winkel te kom en boonop is daar oorgenoeg parkering.

Amanda sê hulle ken baie van hul gereelde klante se voorkeure en dis lekker om iets nuuts aan te beveel sodra dit aankom en later terugvoer daaroor by die klant te kry.

Die winkel bied alles vir groot sport-naweke saam met vriende: ys, biltong, hout, Charka, vuurhoutjies, skyfies en selfs oulike pakkies met die droë bestanddele vir ’n bierbroodjie of roosterkoek vir daai l-a-n-g braai-dae.

Liquormark is baie gewild onder die plaaslike restaurante wat ook die afleweringsdiens waardeer. Daarby is Amanda en Etienne vlytige berekenaars en net die regte mense om nader te trek as jy ’n groot funksie soos ’n verjaardagpartytjie, troue, of ander geleentheid beplan.

Kaap Agri Meganisasie

Worcester se Kaap Agri Meganisasie-tak bedien ’n groot gebied en is verantwoordelik vir Agrimark-takke wat strek van Tulbagh en Wolseley, tot Robertson, Rawsonville en Orchard in De Doorns.

Bennie Dippenaar is die dienste-bestuurder en hier kraai naverkopediens beslis koning. Die span werktuigkundiges werk aan alle voertuie waarop produsente daagliks staatmaak – van oes- en grondverskuiwingsmasjiene tot viertrek-motorfietse en trekkers. Bennie lag as hy sê hulle het selfs al rantsnyers vir ’n dorpsklant gediens.

Bennie het in 2014 by Kaap Agri aangesluit. Hy sê sy bestuursfilosofie is dat jy die klant in staat moet stel om dit wat hy gekoop het, elke dag te benut sodat sy boerdery vlot kan verloop.

“Ons poog om die beste naverkopediens te bied en dis waarin ons sukses lê.” Die span werk aan alle handelsmerke. Hulle kom al die waarborge van Kaap Agri se produklyne na en neem al die instandhouding en dienste waar. Hul bemarker, Nic van Lill, is al vir 30 jaar deel van die span en sy kundigheid en advies word baie hoog geag in die distrik.

“Die Braud-oesmasjiene wat sowat R3,2 miljoen kos, is hoogs gespesialiseerde werktuie. As daardie masjien vir ’n dag of twee buite aksie is, kan dit jou klant se besigheid lelik knou. Die werktuigkundiges se ervaring en kennis verseker dat ons die staantyd tot ’n minimum beperk sodat die bedrywighede so gou moontlik kan voortgaan.”

Pakmark

Conrad Nel is die afgelope 12 jaar takbestuurder van Pakmark en is al 25 jaar by die maatskappy.

Hul produkreeks dek komponente vir tafeldruiwe, steenvrugte, appels, pere, vye, botterskorsie, pampoen asook kartonne vir wyn en beskuit, eierhouers en groentesakkies, asook kartonhouers wat smouse gebruik om kleiner hoeveelhede te verkoop.

Conrad sê hulle poog ten alle tye om in die produsent se behoeftes te voorsien en verwagtinge te bestuur deur middel van goeie verhoudinge. Hy sorg ook dat daar gereeld opnames gedoen word om te sien watter voorrade word benodig sodat daar nie tye kom waar verpakkingsmateriaal nie beskikbaar is nie.

“Pakmark Worcester doen veral in oestyd baie moeite. Ek doen self aflewerings met die trokkie, wat waarde toevoeg. Ivan Malags, pakhuisassistent, is al 23 jaar hier en hy het ’n uitstekende verhouding met klante.

“Almal in die span werk hard. Dis ’n belewenis om te sien hoe dinge verloop wanneer daar vier tot ses trokke of bakkies op een slag hier aankom om materiaal te kom haal!

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.