Hy het grootgeword in die klein Vrystaatse dorpie Virginia totdat AJ Griesel as tiener saam met sy familie na Kaapstad verhuis het. Sy kinderjare in ‘n hegte plaasgemeenskap het ‘n passie vir landbou by hom gevestig, terwyl hy as leergierige tiener deur die kommersiële bedrywighede van die groot stad geïnspireer is. Dit is juis AJ se vermoë om verskillende wêrelde te verstaan en met mekaar te verbind wat sy aanslag as Direkteur van Handel en Dienste by Kaap Agri kenmerk. 

“Ek is veral trots op ons toewyding om dieselfde diens op afgeleë plekke te wil lewer as in groter dorpe of stede, want dis my passie. Ons sal nooit in Brandvlei dieselfde aantal produkte kan aanhou as byvoorbeeld in die Paarl nie, maar ons is beslis tot elke dorp verbonde en daarom poog ons om die beste, mees toepaslike produkreekse vir elke spesifieke dorp en streek te bied,” sê AJ.

Van al Kaap Agri se vele handelsmerke is Agrimark seker die bekendste. Volgens AJ is hul wortels in die Wes-Kaap, maar die groep doen tans besigheid in byna elke provinsie van Suid-Afrika. Die jongste toevoeging tot die Kaap Agri-stal kom uit KwaZulu-Natal nadat die maatskappy ‘n meerderheidsaandeel in Forge aangeskaf het. Forge is ook, nes Kaap Agri, gefokus op landbou en verwante handelsvertakkings met ‘n gevestigde boumateriaal-afdeling. “Ons is konstant op die uitkyk na nuwe geleenthede, mits dit waarde toevoeg of waarde vir ons bestaande klante skep,” sê AJ, wat van 2014 tot 2018 die Uitvoerende Bestuurder van Besigheidsontwikkeling by Kaap Agri was. 

Sy huidige portefeulje as Direkteur sluit Agrimark, Pakmark, Kaap Agri Meganisasie en Agrimark Grain in. Met soveel groot ysters in die vuur, is tydsindeling sy grootste uitdaging. “Elkeen van hierdie besighede het aspekte wat dit uniek en suksesvol maak. My uitdaging is om genoeg tyd saam met die leierskap van elke afdeling te spandeer sodat ek hulle kan ondersteun en bystaan. Goeie mense in die regte posisies is die enigste resep wat werk.”

“In die Agrimark Grain-afdeling is markaandeel en toeganklikheid vir die produsente van kardinale belang. Met Agrimark is die verhouding met die klant en die toepaslikheid van die landbou- en kleinhandelreekse ons hooffokus. In die Pakmark-omgewing is dienslewering tydens seisoenale piektye en die vermoë om ‘n produk betyds te besorg, die rede waarom produsente ons met hulle aankope vertrou. In Meganisasie is ons bevoorreg om New Holland-agente te wees, want dit is ‘n uitstekende produkreeks. Dit is ons verantwoordelikheid om seker te maak dat die naverkoopdiens ook van dieselfde hoogstaande gehalte is,” sê hy.

OOP VIR ALMAL

Ondanks die maatskappy se diverse belange en uitbreidings, word Kaap Agri soms met die landbou-koöperasies van ouds verwar. Die publiek vra steeds gereeld of net boere, produsente en lede by Agrimark mag koop. “Natuurlik mag enige lid van die publiek by ons koop,” beaam AJ. 

In die vyf jaar sedert AJ by Kaap Agri aangesluit het, is hy baie beïndruk met die mate waarin die maatskappy sy afhanklikheid van die landbousektor afgeskaal het, sonder om hul toewyding tot die sektor in die gedrang te bring. Wanneer die landbousektor deur ‘n moeilike fase gaan, bied dit hulle effens meer beskerming. “Ek dink in die toekoms sal diens en verhouding- gedrewe handel in die landbou-sektor deurslaggewend wees,” meen hy. 

“Ons definieer ons klante as produsente, vriende, familie en hul troeteldiere. Ons kleinhandel lok nuwe klante wat ons weer in staat stel om ekonomiese aktiwiteit in afgeleë areas te stimuleer. En dit bemagtig ons om deur werkskepping tot gemeenskappe by te dra en om geleenthede te skep sodat die gemeenskap hul geld plaaslik kan spandeer,” sê hy. 

SPANWERK

AJ en sy span reis die land vol en doen baie moeite om hul klante se behoeftes te verstaan. Hy geniet veral die interaksie met landbou-klante wat hom in staat stel om ‘n beter begrip van hul verwagtinge te kry. “Tydens gesprekke met produsente tel jy dikwels ‘n klein wenk op oor wat in hul wêreld aangaan, en oor dit wat vir hulle voorlê. Dit stel my in staat om strategies te besin waarop ons volgende moet fokus,” sê hy. 

Agrimark se takbestuurders is byna altyd  goed in die gemeenskap gevestig dat hulle ‘n waardevolle bron van terugvoer en insig is. “Elke keer as ek in ’n Agrimark is, probeer ek dink wat die plaaslike klant van ons as verskaffer verwag. Dinge is natuurlik baie anders in Paarl as in Pofadder, en dis ons werk om dit te verstaan ??en daarvolgens te reageer,” meen hy. “Ons doelwit is nie om soveel produkte as moontlik oral beskikbaar te stel nie, maar eerder om die regte produkte vir elke tak te selekteer. Ons voorsiening-ketting herinner my telkemale weer daaraan dat die seleksie van kleinhandelprodukte 70% wetenskap en 30% kuns is. Jy moet ‘n gevoel daarvoor hê,” meen hy. “ ‘n Groot projek om die aanskaffing en logistiek van produkte en reekse te optimaliseer, word juis tans geprioritiseer en ons kollegas doen wonderlike werk in die verband.“

Tendense in aankope word grootliks deur die opbrengs van ‘n dorp of streek bepaal. Na ‘n goeie oes is die algemene gevoel meer positief en klante spandeer en investeer meer. AJ het wel al tendense opgemerk wat nie deur droogte of oesopbrengs beïnvloed word nie. “Ongeag watter landbouprodukte gekoop word, is daar gereeld Coca-Cola op die faktuur,” lag hy.  

RISIKOBESTUUR

Volgens AJ is die voortslepende droogte in groot dele van die land sowel as die politieke onsekerheid rondom grondhervorming, albei tans groot uitdagings vir die hele landbousektor. Die ingryping van die nasionale regering om sekere gebiede as rampgebiede te verklaar was in sommige gevalle voordelig, maar in ander areas het dit bloot te laat gebeur en strukturele skade is reeds aangerig. Die tweede uitbraak van bek-en-klouseer in ‘n kort tydperk het bygedra tot ‘n alreeds uitdagende klimaat in  vleisproduserende gebiede, aangesien die uitvoer van vleis en veral verwante dierprodukte ingekort is. Alle uitvoergewasse is baie afhanklik van internasionale marktoegang en vele bedryfsorganisasies – veral in die vrugtebedryf – beskou dit as ‘n strategiese knelpunt wat in samewerking met die regering aangespreek moet word.

STAATMAKERS – MET OF SONDER STAATSHULP

“Ons produsente word steeds as die mees innoverend ter wêreld beskou en hulle vermoë om in ekstreme toestande teen sulke vlakke te produseer, sonder subsidies van die regering, is werklik ongelooflik,” sê AJ. Hy verwys na uitdagings in die wyer sakewêreld wat baie uitdagend is, dinge soos werkloosheid, die koste om ekonomiese bemagtiging te bewerkstellig, voortslepende beurtkrag en die verval van basiese dienste asook die infrastruktuur in die platteland. “Alles in ag genome, is daar uitdagende tye wat voorlê, maar tog bied ons land steeds ongelooflike geleenthede vir innoverende en hardwerkende sakeleiers en besighede, ongeag die bedryf.”

DRYWERS VIR GROEI

AJ beskou tegnologie en die toegang tot inligting wat dit meebring as ‘n belangrike drywer vir verandering, veral in die wyse waarop daar met produsente besigheid gedoen sal word. “Dit is geen geheim dat produsente groter word nie en dit vereis dat ons ons aanslag moet aanpas. Ons gaan toenemend fokus op langtermyn strategiese verhoudings om gespesialiseerde dienste aan produsente te lewer. Ons moet deel wees van die klant se besluitnemingsproses en waarde toevoeg deur middel van ons toegang tot produkte en dienste. Kortom, ons moet klante van behoeftes bewus maak en dan die oplossing daarvoor bied nog voor dit aangevra word,” verduidelik hy.

As daar een persoon is wat deeglik bewus is van die massiewe spanpoging onderliggend tot Kaap Agri se vermoë om klante se behoeftes doeltreffend aan te spreek, is dit AJ. “Ek wil my kollegas en span bedank vir hulle groot bydrae in 2019. En mag 2020 vir almal ‘n geseënde en voorspoedige jaar wees,” sê hy. En met ‘n oor teen die grond, ‘n oog op die horison en ‘n skouer aan die wiel, sal voornemens in realiteite omskep word. 

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.