Min van ons dink aan wát ʼn goeie eindproduk voorafgaan en hoe belangrik dit is. Die breek van brood se genot lê byvoorbeeld nié in die warm kors met die smeltende plaasbotter in jou mond nie. Dit begin met die deegknieër se vernuf. Die gevolge van die Eerste Messiaanse Wonderwerk begin eweneens met hoe die grond deur die wingerdstok verlei is, die wynmaker die druif aan die stok geliefkoos het.
Só óók om by Kakamas uit te kom.
Jy sukkel deur die droë Namakwaland waar mens en dier letterlik na strooihalms gryp. Die Boesmanlanders is soos hul gewoonlik betroubare langbeenboesmangras op die knieë. Menige reeds ten gronde.
Maar soos die fynproewer beur jy voort tot verby daardie punt waar hoop in wanhoop ontaard het en word Kakamas se lower jou vergoeding.
“Hitte,” laat Jaco Wessels, Agrimark Kakamas se takbestuurder, weet. “En natuurlik die rivier. Sonder die Gariep sou daar geen Kakamas gewees het nie. Maar ons hitte is die ding.”
In hierdie omgewing klim die kwik gereeld in die somer tot skuins duskant (gereeld anderkant) 50 grade Celsius.
“Die druiwe word vinniger ryp en markgereed. En die warmte help baie om ons rosyntjies van die beste ter wêreld te maak. Met die sitrus wat bygekom het, het ons plaaslike bevolking omtrent verdubbel, want ons het somer- en winteraktiwiteite. Dit dra alles by tot ʼn oplewing in hierdie omgewing,” meen Jaco.

Met druiwe gedurende die somermaande en sitrus in die winter word hier ongeveer agt maande per jaar geoes. Benydenswaardig.
En Jaco en die Agrimark-span lewer hul stewige bydrae tot hierdie suksesverhaal.
Jaco het by die Kaap Agri-groep in 1993 aangesluit, en in 1998 na Kakamas geskuif. Hy was ook verantwoordelik om ‘n nuwe Agrimark-tak in 2003 in Kakamas te vestig.

“Maar dit is alles ou nuus,” vermaan hy. Jaco blyk nie ʼn man te wees wat daarvan hou om stil te sit nie en loop heen en weer agter sy lessenaar soos ʼn pelotonsersant op die paradegrond.
“Hier het oor die afgelope klompie jare vele nuwe goed gebeur. Eerstens het ons die winkel geheel en al opgeknap.”
Jaggewere, teleskope, ammunisie en toestelle om patrone mee te laai, pryk teen die mure.
“Ons het uiteindelik ʼn wapenkluislisensie bekom en hoop om vanaf Januarie 2020 ten volle funksioneel te wees.”
Te verstane. Noord-Kapenaars is jagversot.
Jaco neem my op toer van die winkel ⎯⎯⎯— na die Jonssons Zone, die gereedskap-, swembad-, kamperingsafdelings en vele meer. Almal oordeelkundig uitgelê met kliëntegerief as wagwoord.
Dan spring ons in Jaco se bakkie en skiet oorkant die pad na die nuwe bou-afdeling toe.
Ek vra: “Hoekom is daar oor die afgelope tyd so ʼn oplewing in die boumateriaal en hardeware sektore?”
“Ek glo nie dit is juis ’n oplewing nie maar eerder mededingers wat die mark betree.”
Maar Jaco en sy span staan nie terug nie.
“Hou jou plek netjies, jou diens puik, die personeel gelukkig, behou die vertroue van jou boere, ploeg terug in die gemeenskap en jy is ʼn stappie voor. My benadering is: as ek iets wil koop, waarheen gaan ek? Na Agrimark toe. En dit maak nie saak of iemand vyf rand of miljoene spandeer nie. Ons probeer om almal hier te kry. Nié omdat ons nie die volgende besigheid sy plek in die son gun nie. Omdat ons die beste is.” En volgens Jaco speel sy besonderse personeel, elk met hulle unieke vaardighede en persoonlikhede, ʼn deurslaggewende rol in die sukses van die Kakamas-tak.
Jaco vat die pad na ʼn massiewe stoor waar daar óók grootskaalse opknappingswerk gedoen is.
“Ons het ʼn klomp werk hier gedoen om die berging van pakmateriaal op te skerp sodat die stoor stofvry en in lyn met die jongste standaarde is. Ons doen alles in ons vermoë om ons kliënte gelukkig te hou.”
Hierdie benadering kan sy neus effens in die rigting van idealisme stuur. Algehele kliënte-tevredenheid is immers, soos die Engelsman sê, a dark art.
“Ja, mense is soms vir jou vies oor sekere goed, maar die manier
waarop jy die probleem probeer oplos, is een van die belangrikste aspekte van hoe jy ʼn kliënt behou. Moenie leë beloftes maak nie. Staan op jou punte en behou jou integriteit. Dis wat ek sê.”
En die spreekwoord sê: goed begin is halfpad gewin – iets wat net so wel Kakamas Agrimark se leuse kon wees.

Gepubliseer in MARKtoe! tydskrif

Visit Kakamas Agrimark