Hier word dinge anders gedoen

Deur Danie Keet | Foto’s Michel Dei-Cont

Soos op soveel ander plekke in die land, het die produsente in die Montagu-omgewing ook die afgelope paar jaar swaargekry onder die droogtetoestande. Dit het die bedryf en die aktiwiteite van Agrimark Montagu beïnvloed.

Die man aan die woord is Frans Louw, takbestuurder van Agrimark Montagu, wat al sedert 2010 hier aan die roer van sake staan.

“Alhoewel daar elders in die Karoo en Klein-Karoo reën geval het, is sake hier by ons anders. Die Langeberg is soos ‘n muur vir die reën en ons het dus nie veel gekry nie. Ons vernaamste opgaardam, die Poortjieskloofdam, is kurkdroog. Dit het die landbou baie benadeel,” beskryf hy die omstandighede van ongeveer die afgelope 4 jaar.

Terwyl ons gesels kom ‘n klant sy kantoor binne en doen navraag oor ‘n aflewering van verkeerde skoene wat hy ontvang het. Dit word beide met erns en ‘n glimlag aangespreek en opgelos. Dis die eerste van ‘n paar klante wat tydens ons gesprek kom inloer.

Volgens Frans is die onsekerheid van die droogte en die moontlikheid van verligtende reën wat in die winter verwag word, iets wat die produsente bekommerd maak. In die verlede was hulle, veral die ouer produsente, gewoond aan periodieke droë tye, maar nooit vir sulke lang tye nie.

“Met die droogte op hande en die verandering van ons klante se kooppatrone, moes ons iets doen om te diversifiseer en te verseker dat ons steeds ‘n markkrag bly. Ons het drie spesialis-bemarkers aangestel om nuwe klante te werf en ook om beter diens aan die plaaslike gemeenskap en die breër landbougemeenskap te bied.

“Ons het Antonie Coetzee as handelsmerkbestuurder aangestel, Renzo Waso as bemarker in die boumateriaal- en hardeware-afdeling en Richard Booyens as ons pakmateriaalbemarker.

“Pakmateriaal is een van ons grootste verkopers en hier is ‘n verskeidenheid produsente wat kartonne, punnets, kartonverdelers, polistireen-rakkies, grootmaat-kartonne en ander pakmateriaal by ons bestel. Hulle is hoofsaaklik appel-, peer-, appelkoos-, tafeldruif- en ander steenvrugprodusente. Die gevolg is dat dit vir ons ook ‘n spesialisveld geword het.

“Wat boumateriaal betref, is hier baie uitbreidings op Montagu met heelwat nuwe huise wat gebou word. Ons bied alles wat ‘n bouer dalk benodig en ons lewer ook boumateriaal soos sand en bakstene af. Baie mense kom tree hier af omdat dit nie te ver van Kaapstad af is nie, maar tog voel dit asof jy werklik op die platteland bly.”

In die strewe daarna om nog beter diens aan die gemeenskap te lewer, het Agrimark Montagu ook ‘n satelliettak in die Koo-vallei oopgemaak. Alledaagse en huishoudelike produkte word aangehou aangesien die meeste ander winkels te ver is en dit dus vir die inwoners maklik is om hul daaglikse benodigdhede hier aan te skaf. Die winkel is nou ook ingerig as ‘n subagent vir ‘n groot koeldrankvervaardiger en- verspreider.

Die satellietwinkel, waar Jaco Steyn in beheer is, se ander groot mark is steenvrugprodusente en groot hoeveelhede pakmateriaal word hier verkoop.

“Van Agrimark se kant af is dit nou nog belangriker as ooit dat ons ‘n verskil in ander se lewens maak deur produkte van die hoogste gehalte en wêreldklas diens te verskaf.

“En ons het groot planne. Ons gaan vanjaar nog ‘n deel van ‘n voormalige braairestaurant se perseel wat aan die winkel grens, herontwikkel en hoofsaaklik gebruik om ons verfafdeling verder uit te brei,” vertel Frans verder.

Agrimark Montagu is tans ‘n agent vir Plascon en hulle hou die hele reeks verf en verwante produkte van hierdie handelsmerk aan. Die uitbreiding gaan egter help om ‘n volwaardige verf-afdeling in die tak te skep sodat die Dulux-reeks ook aangebied kan word om verbruikers ’n wyer keuse van produkte en kleure te bied.

“Montagu is ‘n bestemmingsdorp en hier is baie besoekers wat oor naweke op die dorp en in die omgewing kom kuier. Veral kampeerders by oorde soos die Guano Caves, Doringlaagte en Montagu se woonwapark het die afgelope tyd baie toegeneem. Om hierdie rede het ons die kamp-afdeling baie uitgebrei om in die aanvraag na kamptoerusting en -toebehore te voorsien. ‘n Mens sal verbaas staan as jy hoor waarna mense kom soek as hulle laat op ‘n Vrydagmiddag hier aankom – enigiets van kampstoele, slaapsakke, en selfs ‘n tent wat by die huis vergeet is. Dit is ‘n goeie mark vir ons en dit bied baie moontlikhede vir die toekoms. Ons beplan ook om ‘n spesiale area in die winkel in te rig sodat mense kan sien hoe groot ‘n gazebo of tent is as dit opgeslaan is voordat hulle dit koop.”

Ander produkte wat hoog op Agrimark Montagu se topverkoperlys is, is kunsmis, wat veral deur die steenvrugprodusente gekoop word omdat die aankooppryse baie kompeterend is, chemikalieë, swamdoders en ‘n verskeidenheid produkte wat deur die droogprodusente benodig word, soos droogswawel, loog en meta.

“Suiker is een van ons grootste verkopers. Ons het verlede jaar byna 25 t suiker per maand aan die verskillende inmaak- en droëvrugte-aanlegte verkoop. Hier is ‘n hele paar wat gereeld gehaltesuiker by ons kom koop – Locarno Sundried Fruit, Capedry en Montagu Foods is van ons groot klante. Ons het al suiker in KwaZulu-Natal gaan aankoop en ook uit Brasilië ingevoer net om die beste gehalte te kry. En omdat dit vir die verwerkers ‘n insetkoste is, sorg ons dat ons pryse kompeterend bly,” vertel Frans.

Agrimark Montagu maak baie op sy personeel staat, soos die lang diensjare van Barbara Volschenk (23 jaar) en Ronel Gentleman (24 jaar) getuig. “As ons mense bemagtig, sal hulle in hul rol groei en elke dag werk toe wil kom, al werk hulle nie elke dag op dieselfde werkstasie nie.

“En omdat ons dinge anders doen – en met behulp van ons spesialis-bemarkers na ons klante toe gaan om hulle behoeftes in hulle omgewing te bepaal – kan ons en ons personeel die beste diens teen die beste pryse lewer,” meen Frans.

Montagu
Badstraat 60, Bergsig
Tel: 023 614 2240

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.