Deur Hein Eksteen | Foto’s Anina Lonte

Dié sogenaamde oase van die Kalahari is, soos enige oase seker, ‘n miernes van bedrywigheid. Terwyl die Oog van Kuruman – die grootste natuurlike fontein in die Suidelike Halfrond – die dorp en sy mense van kristalhelder water voorsien, verseker die span van Kuruman Agrimark dat hierdie dinamiese dorp en streek se mense op die beste diens en waarde kan staatmaak.

“Boerdery is van kleins af my passie,” vertel Christo Zandberg, takbestuurder by Kuruman Agrimark. Alhoewel hy as dorpskind op Upington grootgeword het, boer die Zandbergs vir geslagte buite Kenhardt.

Christo het landbou studeer en vir enkele jare ‘n dorperstoetery bestuur voor hy in 2015 by Kaap Agri as bestuurskwekeling aangesluit het. Hy boer steeds naweke saam met sy pa op die familiegrond en het dus eerstehandse kennis van die boer se behoeftes. 

“Die tak bestaan sedert 2009 en in die landbousektor bedien ons meestal beesboere en voerkrale. Skaapboerdery daarenteen het baie afgeneem. Ek dink jy kan die skaapboere omtrent op jou een hand tel,” sê hy.

Kontantgewasse soos kool, pampoen en botterskorsie word in die omliggende waterryk area aangeplant en lusern is ook ‘n gewilde gewas in die streek.

Die Kalahari is natuurlik wildwêreld, maar die debakel oor eksotiese wild het baie wildboere ʼn stewige dwarsklap toegedien wat hulle toe om veiligheidsonthalwe na bees laat terugkeer het.

Enige produsent is afhanklik van uitmuntende dienslewering, maar naverkopediens van hoogstaande gehalte is ewe noodsaaklik. Dit is hier waar staatmakers soos Jaco Voster, wat al nege jaar by Kuruman Agrimark werk, onmeetbare waarde toevoeg. Jaco het eers as winkel-

assistent begin, daarna as handelsklerk gewerk en hy is onlangs na senior handelsklerk bevorder.

“Dit is van kardinale belang om ʼn goeie persoonlike verhouding met jou klante te hê. En jou werknemers moet beslis hierdie passie deel,” meen Christo. Volgens hom waardeer boere dit wanneer daar oop kaarte met hulle gespeel word – al is dit teleurstellende nuus oor ‘n onderdeel of stuk gereedskap wat nie onmiddellik beskikbaar is nie – en dat hierdie eerlike terugvoer noodsaaklik is om vertroue te bou. “Dis ons hulpvaardigheid, diens en eerlikheid wat van ons mens-mense maak,” sê hy.

Kuruman Agrimark se gewildste produkte sluit veevoere soos fosfaat- en winterlekke in, asook besproeiingsprodukte soos watertenke, pype, krippe en dompelpompe.  

“En veemedisyne is natuurlik ook ‘n groot fokuspunt. Die Kuruman- area kry by verre die meeste reën in die Noord-Kaap en daarmee saam baie  parasiete en veesiektes. Verder is ons een van die min Agrimark-takke wat die volledige veiligheidsuitrusting met bykomstighede aan myne voorsien. Dit sluit alles van veiligheidskoene, brille, weerkaatsende baadjies tot oorpakke in. Daarsonder gaan jy nie by ʼn myn in nie.” Met die gesondheidsrisiko’s van Covid-19 bied die tak nou ook ‘n verskeidenheid algemene veiligheidstoerusting, soos maskers, brille en ontsmetmiddels aan. Die kombinasie van landbou en mynbou maak Kuruman Agrimark uniek. Groot vragmotors gevul met erts loop dag en nag op die paaie in en om Kuruman, en die Agrimark-tak se vulstasie voorsien 24 uur per dag brandstof. Met n brandstofdepot in die streek is dit moontlik om diesel af te lewer op dieselfde dag as wat die klant dit bestel. Dus kan ons daagliks vol vragte brandstof by die myne aflewer, wat nie vir die kompetisie moontlik is nie.” Boere en besighede binne ʼn radius van ongeveer 100 kilometer geniet almal hierdie diens.

“Ons brandstofpryse is uiters kompeterend en daarby bied ons boonop vir boere diesel aan teen ʼn gelaaide afslagprys wat nie geklop kan word nie.”  

Die Expressmark met sy billike brandstof, lekker koffie en uiters gewilde Dagwood-toebroodjies (wat gelukkig met die afskaling na vlak 3 weer beskikbaar is) is ‘n trekpleister vir klante wat eweneens tot die omset van die Agrimark-tak bydra. “Dis juis die doel van ons Expressmark. Klante moet hulle veevoere sowel as brandstof teen bekostigbare pryse kan aankoop. Ek wil byvoorbeeld nie hê dat klante hul veevoer elders moet gaan koop, bloot omdat ons diesel te duur is nie,” meen hy. 

Volgens Christo bars Kuruman uit sy nate. “Dié dorp hou nie op groei nie.  Boumateriaal is in groot aanvraag. Die tak voorsien al die nodige produkte en veral AfriSam-sement is ‘n goeie verkoper. Die Dulux-verf- afdeling is ewe bedrywig. ‘n Tydelike gebrek aan spasie is al wat uitbrei- ding by die tak stuit. 

“Ons het onlangs ʼn nuwe stoor gebou, maar jy kan amper sê tydens die projek het ons onsself reeds vasgegroei. Maar groei, dié sal ons,” sê hy.  

“Van die megaboere tot die klein en opkomende boere, almal weet dat hulle hier op goeie diens, raad en leiding kan staatmaak.”

Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.

Visit Kuruman Agrimark