Deur Bianca du Plessis | Foto’s Michel Dei-Cont
Die Agrimark-tak wat in Oktober op Vryburg geopen het, bied nou aan inwoners van die dorp en produsente van Noordwes ‘n splinternuwe geleentheid om al hul aankope by een winkel te doen.
Nuut. Netjies. Georden. Ruim. En besig. Hande en vurkhysers laai berge voer af. Agrimark se lorrie kreun onder ʼn vrag wat op ʼn plaas afgelaai moet word. ʼn Miernes van aktiwiteit met produsente en besoekers wat gereeld kom inloer om te verneem hoe dinge verloop.
Jan Horn is Agrimark se bestuurder. Ruim van gestalte. En ruim van hart sover dit sy klante aangaan.
“Diens. Diens. En nogmaals diens. En prys. Dis ons leuse. En nie sommer net enige diens en prys nie. Die beste in hierdie geweste. Boonop wil ek ʼn oop verhouding met ons klante hê. Elkeen moet voel hy is ons enigste, beste en grootste. Maak nie saak hoe klein hy is nie. Ja, ons het natuurlik kompetisie, maar as jou diens en pryse die beste is, hoekom sal klante dan na besighede gaan waar die diens en pryse swakker is as joune?”
Die gehalte van die diens wat gelewer word, is een van die min maniere waarop ‘n landboubesigheid en kleinhandelaar kan kompeteer, meen Jan.
“Alles wat jy hier kan koop, kan jy ook elders koop, alhoewel dit dalk nie alles onder een dak is nie. Daarom is jou dienslewering van uiterste belang. Dit is jou troefkaart.”
Jan is geskool op Potchefstroom waar sy pa ʼn slaghuis bedryf het. Vandaar die voorliefde vir landbou. Hy is ʼn man met visie en daarom het hy aan Agrimark se handelspan voorgestel dat hulle die vlerke moet sprei deur die eerste Agrimark in Noordwes te vestig. Só gesê,
só gedaan.
Daar is twee dinge wat vir hierdie Agrimark-tak baie belangrik is: hul produsente en om sake te doen. Die werk is nooit eentonig nie. Elke dag bring nuwe uitdagings oor ‘n mens se pad en dis wat die lewe interessant maak.
Soos met soveel ander besighede in die land, het die Covid-19-pandemie en die algemene ekonomiese onsekerheid taai uitdagings aan die nuwe tak se personeel gestel. Maar hulle het die bul stewig aan die horings beet.
Een van hul grootste uitdagings is om die regte produkte aan te bied sodat hulle in al die behoeftes van verbruikers kan voorsien, maar steeds op so ‘n wyse dat dit steeds ekonomies sin maak. Die personeel moet hul klante leer ken en ‘n verhouding met hulle opbou wat sal verseker dat hulle keer op keer na die tak sal terugkom.
Die tak het ook plaaslike werksgeleenthede geskep. Die meeste van die personeellede is nuut, die entoesiasme is opvallend en hulle is gretig om saam met die tak te groei. Baie kom uit die plaaslike arbeidsmark en hulle is almal verhoudingsmense wat vasbeslote is om vriendelike, professionele diens te lewer. Die twee grootste voor-vereistes vir die vestiging van ʼn Agrimark-tak, is om te bepaal of daar ʼn mark in die omgewing is en of die omgewing potensiaal het. Vryburg se omgewing word as die Texas van Suid-Afrika beskou (terloops, die Kurumanners sien hul omgewing ook as Texas, maar volgens Jan is Vryburg hulle ʼn kort koppie voor).
Nietemin, met bees, wild, jag, skaap, bok, hoenders en gewasse, is Vryburg se potensiaal so geil soos die eerste grasse ná die droogte.
Met ander woorde, daar bestaan ʼn groeiende behoefte aan veral veevoer en -medisyne en dit is dus ‘n fokuspunt vir die tak.
Alhoewel Vryburg Agrimark nog in sy kinderskoene staan, bied hulle ‘n uitgebreide produkreeks aan wat boumateriaal, verf, besproei-ingstoerusting en Jonsson-klere insluit – alles onder een dak. Toegerus met ʼn vragmotor, kan Jan en sy span ook omtrent alles onder hierdie indrukwekkende dak by klante aflaai.
Alhoewel hulle nie tans beplan om ‘n wapenlisensie te bekom en wapens en ammunisie aan te hou nie, sal dit beslis oorweeg word indien die aanvraag daar is. Op die oomblik werk hulle hard daaraan om Vryburg Agrimark as die middelpunt van die gemeenskap te vestig, die plek waar klante uit die omgewing al hul landbou- en leefstyl-aankope in ‘n veilige omgewing, by een winkel, kan kom doen.
Jan sê hy beoog ook om bo ander verskaffers in die streek uit te troon. “Ons het heelwat navrae gekry oor jagtoebehore en ons oorweeg dit om items soos teleskope, driepote, laaitoerusting, ‘n groter verskeidenheid jagmesse, uitgesoekte speserye, worsstoppers en -derms en sulke items aan te hou. Weer eens sal ons ons deur die markaanvraag laat lei,” verduidelik hy.
“Kyk, ek weet nie alles nie, maar as ʼn klant hier instap en raad soek en ek het nie die antwoord nie, kontak ek die relevante verskaffer en hulle het gewoonlik die oplossing. Dit gebeur ook baie dat die verskaffer voorstel dat ons die boer op sy plaas besoek om na sy hele opset te kyk. Op daardie manier kry ons ʼn beter begrip, nié net van sy huidige probleem nie, maar ook probleme wat later mag opduik.
“Ek glo landbou gaan sterker en sterker word. Jy kan baie dinge wegkyk, maar jy kan nie voedselsekerheid wegkyk nie. En produsente en plaaswerkers staan saam, terwyl die jongspan ook toenemend terugkeer na die plase en dit is vir my baie bemoedigend.”
Die tak beplan ook om behoeftes by skole en ander instansies te bepaal. Verskeie landbouverenigings in die streek is reeds gekontak om gemeenskapsprojekte en toekomstige samewerking te bespreek.
Die toekoms wink groen, Agrimark-groen.
Gepubliseer in die MARKtoe! tydskrif.