Die dorp is sinoniem met wingerdbou, historiese argitektuur en fynproewerskos. Dit verras dus nie dat Agrimark Stellenbosch se produkreekse steeds die kenmerkende eienskappe van Stellenbosch weerspieël nie. Maar soms wel op ’n unieke manier. Of dit nou ouskoolse vleispasteie of nuwerwetse ‘wys jou vleis’-broekies is, uitsonderlike gehalte en samewerking bly hierdie tak se fokus.

Ek is aspris vroeg vir my afspraak, want hierdie is ’n winkel waardeur ’n mens lekker kan dwaal. Agrimark Stellenbosch het die mooiste verskeidenheid vars blomme by die ingang. Bossies wat lyk of dit in ’n wilde tuin gepluk is. En die koffiewinkel is beslis nie deel van ’n kettinggroep nie. Dit is ’n tipiese plattelandse koffiewinkel waar klante ’n heerlike ontbyt kan geniet en sommer net opvang met ou vriende. Daar is tuisgemaakte konfyt en pasteie propvol lekker vleis wat daagliks vars gebak word.

Agrimark Stellenbosch is een van Kaap Agri se grootste handelstakke. “Stellenbosch se landbou is baie arbeidintensief en ook baie divers. Ons is ’n one stop shop,” verduidelik Steven Cronjé, bestuurder van Agrimark Stellenbosch. 

Steven is reeds ’n dekade by Kaap Agri/Agrimark werksaam, en het voorheen Agrimark se takke in Simondium en Franschhoek bestuur. Hy het in Mei 2010 by Kaap Agri se bestuursontwikkelingsprogram aangesluit, ná etlike jare in die rosyntjie-uitvoerbedryf in die Oranjerivier-area. Hy is goed vertroud met die wynland en is sedert 1 Oktober die takbestuurder by Agrimark Stellenbosch.

Dié handelstak het iets vir almal, van die agriwerker en plaasbestuurder tot die plaaseienaar, dorpenaar en kranige kampeerders. Die skoen- en klereafdeling doen besonder goed. Daar is duursame Rossi- en Wolverine-stewels, sowel as ’n verskeidenheid Merrell-skoene. “Merrell is baie populêr, want dit is een van min handelsmerke wat steeds half-groottes maak, en ons is mos ’n nasie van platvoete,” skerts Steven. Die afdeling hou drie soorte veldskoene aan en verkoop alles van skoenpolitoer tot sokkies om aan elke moontlike skoenbehoefte te voldoen. Standaardlyne soos blou oorpakke, veiligheidskoene, reënstewels en reënklere is hul brood en botter. 

Stellenbosch is ’n kulinêre bestemming met ’n kookskool en ’n magdom boetiekhotelle, gastehuise en top restaurante in en om die dorp. Agrimark Stellenbosch het swart-en-wit geruite sjef-broeke, gestyfde wit baadjies, voorskote sowel as hoofbedekkings. Tuinbouers en mense in die boubedryf is natuurlik ook groot ondersteuners van die klere-afdeling. Maar kamoefleerdrag is nie juis iets wat ek met Stellenbosch se psige of ekonomie assosieer nie. 

“En dié?” vra ek en wys na ’n reeks kamoefleerklere.

“Ken jy Jan Direction?” vra Steven. “Wys jou vleis?”

“Ekskuus?” 

Steven verduidelik vinnig van Lang Jan, Fris Jan en Klein Jan wat musiek maak in hierdie einste Boerboel Wear. Terug by die kantoor Google ek Jan Direction en skielik verstaan ek die onlangse toename in mansstudente wat deesdae vleis wys in klinknael khaki kortbroekies.

Naas klerasie is die verf-afdeling ook baie gewild, met Jotun se industriële produkte sowel as Dulux en Plascon s’n wat vir die boubedryf en die doen-dit-self-mark gemeng word. 

Die tak het ’n uitgebreide aanbieding vir buitelug-entoesiaste wat veral mik op die mark vir vars- en  seewaterhengel. Daar is ’n vrieskas met bevrore aas vir seewaterhengel en vir varswaterhengel is daar rakke vol botteltjies gegeurde aas met ’n wye verskeidenheid geure, van knoffel tot hoenderbloed en selfs pynappel. Tydens my besoek reël Steven ’n promosie-aand vir hengelaars. Ongeveer 25 kranige hengelaars sal met eetgoed getrakteer word en inligting oor nuwe voorraad ontvang terwyl wenke en stories uitgeruil word (soos net vissermanne kan). Daar is boonop lekker pryse om te wen. 

Dit is ’n groot winkel. Met die mezzanine-dekvlakke ingesluit, beslaan kleinhandel ongeveer 3 100 m² en die landboustoorarea is 2 800 m² groot. Die tak het ’n tweede landboustoor by die Wood Mill ontwikkeling wat 2,7 km van die tak geleë is.

Agrimark Stellenbosch is een van net ses takke wat ’n instapgeweerkluis het met twee handelaars gelisensieerd in wapens en ammunisie wat klante bedien. Hier word produkte vir jag en sportskiet aangehou – van handwapens tot jaggewere, olies, inskietsakke, doppe en doppie-skoonmakers. “Tydens die jagseisoen wanneer ons buskruit en ammunisie verkoop, is ons veral baie besig,” sê Leon Lottering, een van die tak se twee wapenhandelaars. Die proses om ’n wapen te koop, kan drie tot vyf maande duur omdat die klant eers ’n bevoegdheidsertifikaat en wapenlisensie moet bekom.

Agrimark Stellenbosch se span van 54 sluit ook drie bemarkers in. Johann Barnard is reeds 20 jaar as landboubemarker by die tak, Anton Havenga bemark die verf- en boumateriaal-afdeling, en D’niel Miskey fokus op die boubedryf. Anton en D’niel ontmoet boukontrakteurs, skakel met die munisipaliteit en maak kontak met nuwe bouprojekte in die area. 

Stellenbosch se landbousektor bestaan grootliks uit wingerd – ongeveer 16 000 ha daarvan, met net ’n paar honderd hektaar onder pruime, bessies en sitrus – en die tak se inkomste is eweredig versprei tussen kleinhandel en aankope uit die wynbedryf. “Eintlik presteer alles goed hier – van blomme tot draad – danksy lojale klante wat ons goed ondersteun,” sê Steven. “En as ons iets nie het nie, voer ons produkte direk in deur Agrilog, Kaap Agri se interne logistiek-afdeling.”

Ek vra Steven of hy ’n persoonlike doelwit gestel het in sy eerste jaar as takbestuurder van Agrimark Stellenbosch. “Om my jaarlikse begroting te haal,” antwoord hy vinnig. “Dit is natuurlik ’n spanpoging. As dit met een van ons goed gaan, gaan dit met almal goed. Personeel word só bemagtig om eienaarskap te vat.” Hy beskou die rol van takbestuurder as een van verhoudingsbestuur – teenoor klante en teenoor personeel – met ’n finansiële komponent.

Ons loop ’n draai deur die verskillende afdelings. Die huisraadafdeling het van haardroërs en ketels tot indrukwekkende gasstowe. Sou jy ooit vir ’n kind ’n speelding soek wat gebou is om te hou, is hul reeks metaal trokke, trekkers, stootskrapers en motors ’n baie beter opsie as die plastiek weergawes in tradisionele speelgoedwinkels. ’n Gespesialiseerde tuinbou-afdeling met ekspert advies is ook ’n groot trekpleister, en die massiewe verskeidenheid kraggereedskap vind groot byval by die DIY-mark. 

Landboubemarker Johann Barnard gee toe dat hy ’n onbeskaamde voorkeur vir wynboere het omdat wynbou 99% van sy bedieningsarea se landbou uitmaak. In die afgelope twintig jaar het die bedryf heelwat verander, vertel hy. “Plase het kleiner geraak. Daar is ook meer leefstyl-plase en plase wat op agritoerisme fokus as toe ek destyds begin het,” sê hy. Dis welbekend dat die wynbedryf in 2004 deur ’n moeilike tyd is en volgens Johann begin dit nou eers herstel. Plase moes noodgedwonge diversifiseer en dit verklaar die opbloei in trou venues, akkommodasie en restaurante in die omgewing. 

Johann deel graag sy kennis van produkte wat oor die jare getoets is. “Ons probeer vir die boer alles bied wat hy en sy benodig en om waarde toe te voeg deur kostes te spaar waar ons kan,” sê hy. Hy beskryf die SKUDU-grondontledingstelsel wat sedert 2017 gebruik word om binne 24 uur ’n gerekenariseerde aanbeveling oor die grond se kunsmis-

behoeftes te gee deur geografiese aanwysers en grondmonsters te analiseer. “Dan weet die boer presies hoeveel kunsmis waar gegooi moet word, wat keer dat die boer oor- of onderbemes,” sê Johann. SKUDU-grondanalise is verniet as boere hul kunsmis deur Agrimark koop. Johann se grootste kunsmis-klante gebruik die SKUDU-sisteem aangesien dit ook ’n gerieflike metode van rekordhouding bied. 

Johann is tans baie bedrywig met die bemarking van ysterwingerdpale vir die oplei van wingerd. “Moenie ’n fout maak nie,” sê hy, “ek is mal oor ’n houtpaal, maar jy spaar omtrent R10 per paal met die inslaan daarvan, en R12 per paal op arbeid en die insit van hakies.” Die ysterpale is reeds ongeveer vyf jaar op die mark en verkope begin nou momentum optel. Volgens Johann hou baie mense nie van die blink voorkoms nie, daarom is dit nou ook beskikbaar in Corten-staal wat binne enkele maande ’n verweerde voorkoms aanneem – soortgelyk aan roes, maar sonder die verwering wat met roes gepaard gaan. 

Met sy agtergrond in bemarking verstaan Steven die waarde van mense wat met mense kan en wil werk. “Verkoopsklerke is van jou belangrikste mense, want hulle is die laaste skakel met die klant. Goeie diens by die kassier laat die indruk van ’n goeie ervaring, en dit is waarmee die klant die winkel verlaat.” Dit is gewis. Ek verlaat Agrimark Stellenbosch boonop met ses van die lekkerste worsrolletjies in die land, ’n bos blomme en die voorneme om binnekort meer tyd tussen dié tak se rakke te spandeer.

Gepubliseer in MARKtoe! tydskrif

Visit Stellenbosch Agrimark